2 KONINGS 12:8-16

2 KONINGS 12:8-16 Bybel vir almal (ABA)

Die priesters het gesê dit is goed, hulle sal nie meer die geld wat die mense bring, hou nie, hulle sal dit net gebruik om die tempel reg te maak. Die priester Jojada het toe 'n kis geneem en hy het 'n gat in die deksel gemaak. Hy het die kis neergesit regs langs die altaar, waar die mense inkom. Die priesters wat by die deure wagstaan, het al die geld geneem wat mense na die tempel gebring het en hulle het die geld in die kis gegooi. Toe hulle sien daar is baie geld in die kis, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester gekom en hulle het die geld getel en in sakke gesit. Daarna het hulle die geld gegee vir die voormanne wat die werk moes laat doen, en die voormanne het die geld gebruik om die skrynwerkers en die bouers wat aan die tempel gewerk het, te betaal. Hulle het ook die messelaars betaal en die mense wat die klippe gekap het. Hulle het ook hout en gekapte klip gekoop om die tempel reg te maak en om alles te doen wat nodig is. Hulle het nie die geld gebruik om silwerbakke, skêre, skottels, trompette of enige ander goue of silwer gereedskap vir die tempel te maak nie. Hulle het die geld gegee vir die voormanne wat die werk moes laat doen, en die voormanne het die geld gebruik om die tempel te laat regmaak. Die sekretaris van die koning en die hoëpriester het die geld vir die voormanne gegee, en die voormanne het eerlik gewerk. Die sekretaris en die hoëpriester het nie gesê die voormanne moet kom sê wat hulle met die geld gedoen het nie. Mense het ook geld betaal vir skuld-offers en vir sonde-offers, maar die voormanne het nie daardie geld gebruik vir die tempel nie, daardie geld was vir die priesters.

2 KONINGS 12:8-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die priesters het ingewillig om geen geld van die volk aan te neem nie en om die bouvallige plekke van die huis dan ook nie te herstel nie. Toe neem die priester Jójada 'n kis en boor 'n opening in sy deksel en sit dit langs die altaar neer aan die regterkant as 'n mens in die huis van die HERE inkom; en die priesters wat die drumpel bewaak, het al die geld wat in die huis van die HERE ingebring is, daarin gegooi. En toe hulle sien dat daar baie geld in die kis was, het die skrywer van die koning opgegaan en die hoëpriester en dit saamgebind en die geld getel wat in die huis van die HERE gevind is. En hulle het die afgetelde geld oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat oor die huis van die HERE aangestel was, en hulle het dit uitbetaal aan die skrynwerkers en die bouers wat aan die huis van die HERE gewerk het, en aan die messelaars en aan die klipkappers, en om houte en gekapte klippe te koop om die bouvallige plekke van die huis van die HERE te herstel, ja, vir alles wat uitgegee moes word aan die huis om dit te herstel. Ewenwel is daar in die huis van die HERE geen silwerskottels, messe, komme, trompette — enige goue gereedskap of silwergereedskap gemaak van die geld wat in die huis van die HERE gebring is nie. Maar hulle het dit aan die uitvoerders van die werk gegee om daarmee die huis van die HERE te herstel. En hulle het nie met die manne afgereken in wie se hand die geld toevertrou was om dit aan die uitvoerders van die werk te gee nie, want hulle het met getrouheid gehandel. Die geld van die skuldoffer en die geld van sondoffers is nie in die huis van die HERE gebring nie; dit was vir die priesters.

2 KONINGS 12:8-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die priesters het toe onderneem om nie langer geld van die volk te aanvaar solank hulle nie die bouvallige plekke herstel nie. Die priester Jojada het 'n kis gevat, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, regs van waar 'n mens die huis van die Here binnekom. Die priesters wat by die drumpel wag gestaan het, het al die geld wat na die huis van die Here toe gebring is, daarin gegooi. Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester na die tempel toe gegaan en die geld wat in die huis van die Here was, in 'n sak gesit en gaan tel. Hulle het die afgetelde geld oorbetaal aan die werksvoormanne wat vir die huis van die Here aangestel is. Dié het dit oorbetaal aan die skrynwerkers en bouers wat die werk aan die huis van die Here moes uitvoer, so ook aan die messelaars en die klipkappers, om hout en gekapte klip te koop om die herstelwerk aan die huis van die Here te doen, kortom, om alle uitgawes aan die herstel van die tempel te dek. Daar is geen silwerbakke, skêre, komme of trompette gemaak vir die huis van die Here nie; geen silwer- of goue gereedskap is gemaak van die geld wat na die huis van die Here toe gebring is nie. Dit moes aan die voormanne gegee word om die huis van die Here te herstel. Hulle het nie die manne laat boekhou van die geld wat hulle aan hulle betaal het nie. Dit is aan die voormanne gegee wat die werk eerlik uitgevoer het. Die geld vir skuldoffers en sondeoffers is nie in die huis van die Here gebring nie; dit was vir die priesters bestem.

2 KONINGS 12:8-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die priesters het toe ingestem om nie enige geld van die volk in ontvangs te neem nie, en om nie die bouvallige plekke in die tempel te herstel nie. Die priester Jojada het 'n kis geneem, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, aan die regterkant, soos mens die huis van die HERE binnegaan. Die priesters wat deurwagters was, het al die geld wat in die huis van die HERE ingebring is, daarin geplaas. Sodra hulle gesien het dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester opgegaan na die tempel, die geld in 'n sak toegebind, en die geld getel wat in die huis van die HERE gevind is. Hulle het die geld, waarvan die waarde vasgestel is, oorhandig aan die voormanne wat by die huis van die HERE aangestel was. Hulle het dit dan uitgekeer aan die skrynwerkers en bouers wat aan die huis van die HERE gewerk het, en ook aan die messelaars en die klipkappers om hout en gekapte klip te koop, om daarmee die bouvallige plekke in die huis van die HERE te herstel. Ja, dit was vir die herstelwerk, vir alle uitgawes aan die huis van die HERE. Daar is egter nie vir die huis van die HERE silwerbakke, messe, offerbakke of trompette – enige goue of silwergereedskap – gemaak van die geld wat in die huis van die HERE ingebring is nie; maar hulle het die geld aan die voormanne oorhandig, en dié het daarmee die huis van die HERE herstel. Hulle het geen rekenskap geëis van die manne aan wie hulle die geld oorhandig het om vir die werksmanne te gee nie, want hulle was betroubaar in hulle werk. Die geld van die •hersteloffers en die geld van die •reinigingsoffers is nie ingeneem in die huis van die HERE nie; dit het aan die priesters behoort.

2 KONINGS 12:8-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die priesters het ingestem om nie meer geld van die volk te ontvang nie en ook nie om die skeure van die huis te herstel nie. Maar die priester Jójada het 'n kis geneem en 'n gat in die deksel daarvan geboor en dit langs die altaar neergesit, aan die regterkant as 'n mens in die huis van die HERE ingaan; en die priesters wat die deur bewaak het, het al die geld wat in die huis van die HERE ingebring is. En toe hulle sien dat daar baie geld in die kis was, het die skrywer van die koning en die hoëpriester opgekom, en hulle het in sakke gesit en die geld vertel wat in die huis van die HERE gevind is. En hulle het die geld, nadat dit meegedeel is, in die hand van die wat die werk gedoen het, wat toesig oor die huis van die HERE gehad het, gegee; en hulle het dit uitgegee aan die skrynwerkers en bouers wat aan die huis van die HERE gewerk het, en aan messelaars en klipkappers en om hout te koop en gekapte klip om die skeure van die huis van die HERE te herstel en vir alles wat vir die huis uitgelê is om dit te herstel. Maar daar is vir die huis van die HERE geen silwerbakke, snuiters, komme, trompette, enige goue voorwerpe of silwervoorwerpe gemaak van die geld wat in die huis van die HERE ingebring is nie. Maar hulle het dit aan die werkers gegee en die huis van die HERE daarmee herstel. Verder het hulle nie met die manne gereken in wie se hand hulle die geld gegee het om aan werkers te gee nie, want hulle het getrou gehandel. Die skuldgeld en sondegeld is nie in die huis van die HERE ingebring nie; dit was die priesters.

2 KONINGS 12:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die priesters onderneem toe om nie meer geld van die mense te kollekteer nie. Hulle het ook ooreengekom om nie self die herstelwerk van die tempel te doen nie. Die priester Jojada het ’n kis gevat, ’n gat in die deksel geboor en dit by die altaar regs van die ingang van die tempel van die HERE neergesit. Die priesters wat by die ingang waggehou het, het al die geld wat na die tempel van die HERE gebring is, in die kis gegooi. Telkens wanneer die kis vol geld was, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester die geld wat na die tempel van die HERE gebring is, getel en in sakke gesit. Daarna het hulle die geld aan die opsieners van die bouery gegee. Hulle, weer, het dit gebruik om die werkers wat die tempel van die HERE herstel het, te betaal. Daar was skrynwerkers en bouers, messelaars en klipkappers. Hulle het ook die geld gebruik om hout en gekapte klip te koop waarmee die tempel van die HERE herstel is. Ook ander uitgawes ten opsigte van die herstelwerk van die tempel het hulle hieruit betaal. Die geld wat na die tempel toe gebring is, is nie gebruik om silwerbekers, snuiters vir die lampe, wasbakke, trompette of ander gereedskap van goud of silwer vir die tempel van die HERE te maak nie. Dit is aan die werksmense betaal om die tempel te herstel. Daar is nie boekgehou van die geld wat aan die opsieners van die bouery gegee is nie, want hulle was eerlik en getrou. Die geld wat gegee is vir skuldoffers en sonde-offers is egter nie na die tempel van die HERE gebring nie. Dit was vir die priesters bedoel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid