2 Konings 12:8-16

2 Konings 12:8-16 AFR20

Die priesters het toe ingestem om nie enige geld van die volk in ontvangs te neem nie, en om nie die bouvallige plekke in die tempel te herstel nie. Die priester Jojada het 'n kis geneem, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, aan die regterkant, soos mens die huis van die HERE binnegaan. Die priesters wat deurwagters was, het al die geld wat in die huis van die HERE ingebring is, daarin geplaas. Sodra hulle gesien het dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester opgegaan na die tempel, die geld in 'n sak toegebind, en die geld getel wat in die huis van die HERE gevind is. Hulle het die geld, waarvan die waarde vasgestel is, oorhandig aan die voormanne wat by die huis van die HERE aangestel was. Hulle het dit dan uitgekeer aan die skrynwerkers en bouers wat aan die huis van die HERE gewerk het, en ook aan die messelaars en die klipkappers om hout en gekapte klip te koop, om daarmee die bouvallige plekke in die huis van die HERE te herstel. Ja, dit was vir die herstelwerk, vir alle uitgawes aan die huis van die HERE. Daar is egter nie vir die huis van die HERE silwerbakke, messe, offerbakke of trompette – enige goue of silwergereedskap – gemaak van die geld wat in die huis van die HERE ingebring is nie; maar hulle het die geld aan die voormanne oorhandig, en dié het daarmee die huis van die HERE herstel. Hulle het geen rekenskap geëis van die manne aan wie hulle die geld oorhandig het om vir die werksmanne te gee nie, want hulle was betroubaar in hulle werk. Die geld van die •hersteloffers en die geld van die •reinigingsoffers is nie ingeneem in die huis van die HERE nie; dit het aan die priesters behoort.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 12:8-16

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid