2 Konings 12

12
Jehoas koning van Juda
1 In die sewende regeringsjaar van Jehu het Jehoas koning geword, en hy het veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sibja, uit Berseba. 2Jehoas het gedoen wat reg is in die oë van die Here solank as wat die priester Jojada hom onderrig het. 3 Net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand op die offerhoogtes.
4Toe sê Jehoas vir die priesters: “Al die silwer van die •heilige gawes wat na die huis van die Here gebring word, die losgeld by 'n volkstelling, die geld van die loskoopwaardes van persone, asook enige geld wat iemand graag na die huis van die Here wil bring, 5moet die priesters neem, elkeen van sy penningmeester. Hulle moet dan self die bouvallige plekke in die •tempel herstel, elke bouvallige plek wat gevind kon word.”
6In die drie-en-twintigste regeringsjaar van koning Jehoas het die priesters egter nog nie die bouvallige plekke in die tempel herstel nie. 7 Koning Jehoas ontbied toe die priester Jojada en die ander priesters, en sê vir hulle: “Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke in die tempel nie? Julle moet dan nou nie meer geld neem van julle penningmeesters nie, maar dit moet vir die herstel van die bouvallige plekke in die tempel oorhandig word.” 8Die priesters het toe ingestem om nie enige geld van die volk in ontvangs te neem nie, en om nie die bouvallige plekke in die tempel te herstel nie.
9 Die priester Jojada het 'n kis geneem, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, aan die regterkant, soos mens die huis van die Here binnegaan. Die priesters wat deurwagters was, het al die geld wat in die huis van die Here ingebring is, daarin geplaas. 10Sodra hulle gesien het dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester opgegaan na die tempel, die geld in 'n sak toegebind, en die geld getel wat in die huis van die Here gevind is. 11Hulle het die geld, waarvan die waarde vasgestel is, oorhandig aan die voormanne wat by die huis van die Here aangestel was. Hulle het dit dan uitgekeer aan die skrynwerkers en bouers wat aan die huis van die Here gewerk het, 12en ook aan die messelaars en die klipkappers om hout en gekapte klip te koop, om daarmee die bouvallige plekke in die huis van die Here te herstel. Ja, dit was vir die herstelwerk, vir alle uitgawes aan die huis van die Here.
13 Daar is egter nie vir die huis van die Here silwerbakke, messe, offerbakke of trompette – enige goue of silwergereedskap – gemaak van die geld wat in die huis van die Here ingebring is nie; 14maar hulle het die geld aan die voormanne oorhandig, en dié het daarmee die huis van die Here herstel. 15 Hulle het geen rekenskap geëis van die manne aan wie hulle die geld oorhandig het om vir die werksmanne te gee nie, want hulle was betroubaar in hulle werk. 16 Die geld van die •hersteloffers en die geld van die •reinigingsoffers is nie ingeneem in die huis van die Here nie; dit het aan die priesters behoort.
17 In dié tyd het Gasael, die koning van Aram, opgetrek, teen Gat oorlog gevoer en dit ingeneem. Toe Gasael hom voorberei om teen Jerusalem op te trek, 18 het Jehoas, koning van Juda, al die heilige gawes geneem wat sy voorvaders Josafat, Jehoram en Ahasia, konings van Juda, gewy het, asook sy eie heilige gawes en al die goud wat te vinde was in die skatkamers van die huis van die Here en die koninklike paleis, en dit vir Gasael, koning van Aram, gestuur. Gasael het toe van Jerusalem af weggetrek.
19Die verdere geskiedenis van Jehoas en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 20Sy amptenare het in opstand gekom, 'n komplot gesmee en Jehoas neergevel in Bet-Millo, waar 'n mens afgaan na Silla. 21 Josabad, seun van Simat, en Josabad, seun van Somer, sy amptenare, het hom neergevel, en hy het gesterf. Hy is begrawe by sy voorvaders in die Stad van Dawid. Amasia, sy seun, het in sy plek koning geword.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid