2 KRONIEKE 33:3-10 - Compare All Versions

2 KRONIEKE 33:3-10 ABA (Bybel vir almal)

Manasse het die offer-plekke weer gebou wat sy pa Hiskia afgebreek het. Hy het altare gebou vir die Baäls en hy het gewyde pale gemaak. Manasse het gebuig vir die son en die maan en voor al die sterre in die lug en hy het hulle gedien. Die Here het gesê: “Ek wil altyd woon in Jerusalem,” maar Manasse het ook by die tempel altare gebou. Manasse het op die twee oop stukke grond by die tempel altare gebou vir die son en die maan en vir al die sterre in die lug. Hy het sy seuns verbrand in die Ben-Hinnom-vallei. Hy het gesê hy kan tekens sien en hy kan sê wat sal gebeur en hy kan toor. Hy het ook gesê hy kan praat met die geeste van mense wat gesterf het, en dat hy weet wat ander mense nie kan weet nie. Manasse het baie dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie en hy het die Here kwaad gemaak. Manasse het 'n beeld gemaak, en hy het dit in die tempel gesit. God het voorheen vir Dawid en sy seun Salomo oor daardie tempel gesê: “Ek wil altyd in hierdie tempel en in Jerusalem wees. Ek het hierdie stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel. Ek sal die Israeliete nie weer laat weggaan van die land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het nie, maar dan moet hulle seker maak dat hulle alles doen wat Ek vir hulle gesê het. Hulle moet gehoorsaam wees aan al die wette en reëls wat Ek vir Moses gegee het om vir hulle te gee. Hulle moet alles doen wat Ek besluit het.” Manasse het die mense van Juda en Jerusalem verlei om slegte dinge te doen. Hulle het slegter dinge gedoen as die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kan woon. Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het nie geluister nie.

2 KRONIEKE 33:3-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En hy het die hoogtes weer gebou wat sy vader Jehiskía afgebreek het, en altare opgerig vir die Baäls en heilige boomstamme gemaak en hom neergebuig voor die hele leër van die hemel en hulle gedien; ook altare gebou in die huis van die HERE waarvan die HERE gesê het: In Jerusalem sal my Naam vir ewig wees. En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die HERE. Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom en met goëlery en verklaring van voortekens en towery omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg. Hy het ook 'n gesnede afgodsbeeld wat hy gemaak het, in die huis van God opgestel waarvan God aan Dawid en sy seun Salomo gesê het: In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel verkies het, sal Ek vir ewig my Naam vestig. En Ek sal die voet van Israel nie meer laat wyk van die grond wat Ek vir julle vaders bestem het nie, as hulle net sorgvuldig doen alles wat Ek hulle beveel het volgens die hele wet en die insettinge en verordeninge deur die diens van Moses. Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het. En die HERE het met Manasse en met sy volk gespreek, maar hulle het nie geluister nie.

2 KRONIEKE 33:3-10 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir die Baäls opgerig, gewyde pale gemaak, voor al die hemelliggame gebuig en hulle gedien. Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “My Naam sal altyd in Jerusalem wees.” In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou. Hy het sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste. Hy het gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart. Die afgodsbeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet en die voorskrifte en bepalings wat deur bemiddeling van Moses gegee is, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders toegeken het.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak. Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het daar geen ag op geslaan nie.

2 KRONIEKE 33:3-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

het hy die offerhoogtes wat sy vader, Hiskia, afgebreek het, weer opgebou. Hy het altare vir die Baäls opgerig, asjeras gemaak, voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en hulle gedien. Hy het selfs altare in die huis van die HERE gebou, die plek waarvan die HERE gesê het: “In Jerusalem sal my Naam vir altyd wees.” In die twee voorhowe van die huis van die HERE het hy altare gebou vir al die hemelliggame. Hy is die een wat sy seuns in die vuur geoffer het in die Ben-Hinnomdal, voortekens gelees het, wiggelary en towery beoefen het en dodebesweerders en waarsêers aangestel het. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, om Hom uit te tart. Hy het ook 'n gesnede beeld wat hy gemaak het, in die huis van God neergesit, die huis waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem, wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. Ek sal nie weer Israel se voet verwyder van die grond wat Ek aan julle voorouers toegewys het nie, maar slegs as hulle alles wat Ek hulle beveel het by monde van Moses – die hele wet, die vaste voorskrifte en bepalings – nougeset uitvoer.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat afdwaal om selfs meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die Israeliete uitgedelg het. Die HERE het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het nie geluister nie.

2 KRONIEKE 33:3-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Want hy het weer die hoogtes gebou wat sy vader Hiskía afgebreek het, en hy het altare vir die Baäls opgerig en boompies gemaak en die hele leër van die hemel aanbid en hulle gedien. Hy het ook altare gebou in die huis van die HERE waarvan die HERE gesê het: In Jerusalem sal my Naam vir ewig wees. En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in die twee voorhowe van die huis van die HERE. En hy het sy kinders deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom; ook het hy tye gehou en towerye gebruik en towery gebruik en met 'n bekende gees en met towenaars omgegaan; hy het baie kwaad gedoen in die oë van die HERE, om Hom te terg. En hy het 'n gesnede beeld, die afgod wat hy gemaak het, in die huis van God gestel waarvan God aan Dawid en sy seun Salomo gesê het: In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek uitverkies het voor al die stamme van Israel, Ek sal my Naam vestig vir ewig: En Ek sal die voet van Israel nie meer verwyder uit die land wat Ek vir julle vaders bestem het nie; sodat hulle oppas om alles te doen wat Ek hulle beveel het, volgens die hele wet en die insettinge en die verordeninge deur die hand van Moses. En Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal en erger doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel verdelg het. En die HERE het met Manasse en sy volk gespreek, maar hulle het nie geluister nie.

2 KRONIEKE 33:3-10 DB (Die Boodskap)

Hy het die heilige plekke waar die afgode gedien is en wat sy pa, Hiskia, afgebreek het, weer gebou; altare vir die Baäls gebou; stompe gemaak ter ere van die afgod Asjera; al die hemelgode gedien; selfs binne-in die Here se tempel altare vir ander gode gebou (dit is die plek waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: “Ek vestig my Naam in Jerusalem”); in albei portale van die tempel altare gebou om die hemelgode te vereer; sy seun in die Ben-Hinnomdal verbrand as ’n offer aan die afgode; en goëlery, waarsêery en towerkunsies beoefen. Manasse het verskriklike dinge gedoen wat die Here baie kwaad gemaak het. Hy het ’n afgodsbeeld wat hy laat maak het, binne-in die tempel laat opsit. Die Here het al jare tevore vir Dawid en Salomo gesê: “Ek kom bly vir altyd hier in Jerusalem en in dié tempel. Ek het dié plek uitgesoek tussen al die plekke waar daar Israeliete bly. As die Israeliete alles doen wat Ek vra en die wet gehoorsaam wat hulle by Moses, my boodskapper, geleer het, sal Ek hulle vir altyd hier in die land laat bly wat Ek vroeër al vir hulle oupas en oumas gegee het.” Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle geleer om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat voor die Israeliete in die land gebly het. Die Here het Manasse en sy mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.

2 KRONIEKE 33:3-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hy het die heidense heiligdomme herbou wat sy pa Hiskia vernietig het. Hy het altare vir die Baälbeelde gebou en Asjerapale opgerig. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid. Hy het selfs heidense altare gebou in die tempel van die HERE, die plek waarvan die HERE gesê het dat sy Naam altyd daar in Jerusalem sou wees. Hy het altare vir die hemelliggame in elkeen van die twee voorhowe van die HERE se tempel gebou. Manasse het selfs sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal deur vuur laat gaan. Hy het goëlery, waarsêery en towery beoefen, en mediums en spiritiste geraadpleeg. Hy het baie gruwelike dade voor die HERE gedoen en so sy toorn opgewek. Manasse het ’n afgodsbeeld opgerig in die tempel van die HERE, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam sal vir altyd vereer word in hierdie tempel en in Jerusalem, die stad wat Ek onder al die ander stamme van Israel gekies het. As die Israeliete my gebooie, al my riglyne, opdragte en bepalings gehoorsaam wat aan Moses gegee is, sal Ek hulle nie in ballingskap stuur uit hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal sodat hulle selfs meer boosheid gepleeg het as die heidense nasies wat die HERE uitgeroei het toe die Israeliete in die land aangekom het. Die HERE het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het al sy waarskuwings geïgnoreer.