2 Kronieke 33:3-10

2 Kronieke 33:3-10 AFR20

het hy die offerhoogtes wat sy vader, Hiskia, afgebreek het, weer opgebou. Hy het altare vir die Baäls opgerig, asjeras gemaak, voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en hulle gedien. Hy het selfs altare in die huis van die HERE gebou, die plek waarvan die HERE gesê het: “In Jerusalem sal my Naam vir altyd wees.” In die twee voorhowe van die huis van die HERE het hy altare gebou vir al die hemelliggame. Hy is die een wat sy seuns in die vuur geoffer het in die Ben-Hinnomdal, voortekens gelees het, wiggelary en towery beoefen het en dodebesweerders en waarsêers aangestel het. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, om Hom uit te tart. Hy het ook 'n gesnede beeld wat hy gemaak het, in die huis van God neergesit, die huis waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem, wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. Ek sal nie weer Israel se voet verwyder van die grond wat Ek aan julle voorouers toegewys het nie, maar slegs as hulle alles wat Ek hulle beveel het by monde van Moses – die hele wet, die vaste voorskrifte en bepalings – nougeset uitvoer.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat afdwaal om selfs meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die Israeliete uitgedelg het. Die HERE het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het nie geluister nie.