2 Kronieke 33:3-10
2 Kronieke 33:3-10 ABA
Manasse het die offer-plekke weer gebou wat sy pa Hiskia afgebreek het. Hy het altare gebou vir die Baäls en hy het gewyde pale gemaak. Manasse het gebuig vir die son en die maan en voor al die sterre in die lug en hy het hulle gedien. Die Here het gesê: “Ek wil altyd woon in Jerusalem,” maar Manasse het ook by die tempel altare gebou. Manasse het op die twee oop stukke grond by die tempel altare gebou vir die son en die maan en vir al die sterre in die lug. Hy het sy seuns verbrand in die Ben-Hinnom-vallei. Hy het gesê hy kan tekens sien en hy kan sê wat sal gebeur en hy kan toor. Hy het ook gesê hy kan praat met die geeste van mense wat gesterf het, en dat hy weet wat ander mense nie kan weet nie. Manasse het baie dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie en hy het die Here kwaad gemaak. Manasse het 'n beeld gemaak, en hy het dit in die tempel gesit. God het voorheen vir Dawid en sy seun Salomo oor daardie tempel gesê: “Ek wil altyd in hierdie tempel en in Jerusalem wees. Ek het hierdie stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel. Ek sal die Israeliete nie weer laat weggaan van die land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het nie, maar dan moet hulle seker maak dat hulle alles doen wat Ek vir hulle gesê het. Hulle moet gehoorsaam wees aan al die wette en reëls wat Ek vir Moses gegee het om vir hulle te gee. Hulle moet alles doen wat Ek besluit het.” Manasse het die mense van Juda en Jerusalem verlei om slegte dinge te doen. Hulle het slegter dinge gedoen as die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kan woon. Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het nie geluister nie.

