2 KRONIEKE 22:1-10

2 KRONIEKE 22:1-10 Bybel vir almal (ABA)

'n Klomp manne het saam met die Arabiere die leër van Juda aangeval. Hulle het die ouer seuns van Joram almal doodgemaak. Die mense van Jerusalem het toe Joram se jongste seun Ahasia koning gemaak nadat sy pa gesterf het. So het Ahasia, die seun van koning Joram van Juda, koning geword. Hy was 42 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was een jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Atalia, 'n kleindogter van Omri. Ahasia het ook gelewe soos die familie van Agab, want sy ma het vir hom gesê om verkeerde dinge te doen. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos die familie van Agab, want ná sy pa se dood was hulle sy raadgewers. Dit is hoekom hy gesterf het. Hy het gedoen wat die familie van Agab vir hom gesê het om te doen. Ahasia het saam met Joram seun van koning Agab van Israel oorlog gaan maak teen koning Gasael van Aram. Dit was by die stad Ramot in Gilead. Die Arameërs het daar vir Joram raakgeskiet, en hy het teruggekom na die stad Jisreël sodat sy seerplekke gesond kon word, die seerplekke wat hy gekry het toe hy oorlog gemaak het teen koning Gasael van Aram. Koning Asarja van Juda, seun van Joram, het na die stad Jisreël gekom om vir Joram seun van Agab te besoek, want Joram was siek. Toe het met Ahasia gebeur wat God besluit het. Ahasia het by Joram gekom, en hy het vir Jehu seun van Nimsi daar ontmoet. Die Here het vir Jehu gesalf en gekies om die familie van Agab dood te maak. Jehu was besig om die familie van Agab te straf. Hy het die amptenare van Juda gekry en ook die seuns van Ahasia se broers, hulle het vir Ahasia gewerk. Jehu het hulle doodgemaak. Jehu het toe vir Ahasia gesoek. Ahasia het in die stad Samaria weggekruip, maar hulle het hom daar gevang. Hulle het hom na Jehu toe gebring en hulle het hom doodgemaak. Hulle het hom begrawe, want hulle het gesê: “Hy is die kleinseun van Josafat, Josafat het die Here met sy hele hart gedien.” Nadat Ahasia gesterf het, was daar niemand in sy familie wat dadelik koning kon word nie. En toe Ahasia se ma Atalia hoor dat haar seun dood is, het sy dadelik begin om almal in die koning van Juda se familie te vermoor.

2 KRONIEKE 22:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE maak die inwoners van Jerusalem Ahásia, sy jongste seun, koning in sy plek; want die bende wat met die Arabiere in die laer gekom het, het al die oueres gedood. En Ahásia, die seun van Joram, die koning van Juda, het koning geword. Twee-en-twintig jaar was Ahásia oud toe hy koning geword het, en een jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Atália, die dogter van Omri. Hy het ook gewandel in die weë van die huis van Agab, want sy moeder was sy raadgeefster om goddeloos te handel. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE soos die huis van Agab, want húlle was sy raadgewers ná die dood van sy vader, hom tot 'n verderf. Hy het ook volgens hulle raad gewandel en met Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, saamgetrek in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram, by Ramot in Gílead; maar die Arameërs het Joram gewond. En hy het teruggekom om hom in Jísreël te laat genees van die wonde wat hom toegebring is by Rama in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram; en Ahásia, die seun van Joram, die koning van Juda, het afgekom om Joram, die seun van Agab, in Jísreël te besoek, want hy was siek. Maar die ondergang van Ahásia was van God, dat hy na Joram moes kom; en daar aangekom, het hy saam met Joram uitgetrek teen Jehu, die seun van Nimsi, wat die HERE gesalf het om die huis van Agab uit te roei. En toe Jehu die strafgerig voltrek aan die huis van Agab, het hy die owerstes van Juda en die seuns van die broers van Ahásia, die dienaars van Ahásia, aangetref en hulle gedood. Daarna het hy Ahásia gesoek, en hulle het hom gevang terwyl hy in Samaría wegkruip en hom na Jehu gebring; en hulle het hom gedood en hom begrawe, want hulle het gesê: Hy is die seun van Jósafat, wat die HERE met sy hele hart gesoek het. En daar was niemand in die huis van Ahásia wat in staat was om te regeer nie. TOE Atália, die moeder van Ahásia, sien dat haar seun dood was, het sy haar gereedgemaak en die hele koninklike geslag van die huis van Juda omgebring.

2 KRONIEKE 22:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die inwoners van Jerusalem het vir Ahasia, die jongste seun van Joram, koning gemaak in sy pa se plek. Die ouer seuns is dood toe die bende Arabiere die inval gemaak het. So het Ahasia seun van koning Joram van Juda aan die bewind gekom. Hy was twee en veertig toe hy koning geword het en was 'n jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Atalia, 'n dogter van Omri. Ook hy het die pad van die koningshuis van Agab geloop; sy ma was die een wat hom die raad gegee het om so verkeerd op te tree. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos die koningshuis van Agab, want na sy pa se dood was hulle sy raadgewers, en dit het sy ondergang beteken. Dit was ook op hulle advies dat hy saam met Joram seun van koning Agab van Israel betrokke geraak het in 'n oorlog teen koning Gasael van die Arameërs in Ramot in Gilead. Joram is deur die Arameërs gewond en is terug na Jisreël toe om te genees van die wonde wat hy in Ramot opgedoen het toe hy teen die Aramese koning Gasael geveg het. Koning Asarja van Juda, seun van Joram, het vir Joram seun van Agab in Jisreël gaan besoek, want Joram was siek. Ahasia se ondergang met sy besoek aan Joram is deur God beskik. Na sy aankoms het hy saam met Joram opgetrek teen Jehu seun van Nimsi. Die Here het vir Jehu aangewys om die koningshuis van Agab uit te roei, en Jehu was toe juis besig om die straf van God oor die koningshuis van Agab te voltrek. Hy het die amptenare van Juda en die seuns van Ahasia se broers wat in Ahasia se gevolg was, raakgeloop en hulle doodgemaak. Daarna het hy na Ahasia gesoek. Ahasia is gevang waar hy in Samaria probeer wegkruip het, en na Jehu toe gebring, waar hy ook doodgemaak is. Ahasia is behoorlik begrawe, want die mense het gesê: “Hy is die kleinseun van Josafat, en Josafat het die Here met sy hele hart gedien.” In dié stadium was daar niemand uit die koningshuis van Ahasia wat die regering kon oorneem nie. Toe Ahasia se ma, Atalia, hoor haar seun is dood, het sy al die aanspraakmakers op die troon van Juda uit die weg geruim.

2 KRONIEKE 22:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die inwoners van Jerusalem het Ahasia, Jehoram se jongste seun, in sy plek koning gemaak, want al die ouer seuns is doodgemaak deur die rowerbende wat saam met die Arabiere die kamp binnegekom het. So het Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, koning geword. Ahasia was twee-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Atalia, kleindogter van Omri. Ook hy het die paaie van die huis van Agab gevolg deur goddeloos op te tree – sy moeder was immers sy raadgewer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, net soos die huis van Agab, want hulle was sy raadgewers ná die dood van sy vader, tot sy eie ondergang. Hy het ook hulle raad gevolg en saam met Joram, seun van Agab, koning van Israel, gegaan vir die geveg teen Gasael, koning van Aram, by Ramot in Gilead. Die Arameërs het Joram toe gewond, en hy het teruggekeer om in Jisreël te herstel van sy wonde wat die Arameërs hom toegedien het by Rama, toe hy teen Gasael, koning van Aram, geveg het. Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, het toe afgegaan om Joram, seun van Agab, in Jisreël te besoek, omdat hy siek was. Van God se kant af was dit 'n beskikking oor Ahasia om by Joram uit te kom. Met sy aankoms het hy saam met Joram uitgetrek teen Jehu, seun van Nimsi, vir wie die HERE gesalf het om die huis van Agab uit te roei. Pas nadat Jehu die oordeel oor die huis van Agab voltrek het, het hy afgekom op die leiers van Juda en die seuns van Ahasia se broers wat Ahasia bygestaan het. Hy het hulle toe om die lewe gebring. Daarna het hy na Ahasia gesoek. Hulle het hom gevange geneem terwyl hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom na Jehu gebring en hom doodgemaak. Hulle het hom begrawe, want hulle het gesê: “Hy is 'n kleinseun van Josafat, wat die HERE met sy hele hart gesoek het.” Die huis van Ahasia het toe niemand gehad wat opgewasse vir die koningskap was nie. Toe Atalia, Ahasia se moeder, sien dat haar seun dood is, het sy daartoe oorgegaan om die hele koninklike geslag van die huis van Juda om die lewe te bring.

2 KRONIEKE 22:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die inwoners van Jerusalem het Ahásia, sy jongste seun, in sy plek koning gemaak, want die bende manne wat saam met die Arabiere na die laer gekom het, het al die oudstes gedood. So het Ahasia, die seun van Joram, die koning van Juda, geregeer. Twee en veertig jaar was Ahásia oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar in Jerusalem geregeer. En die naam van sy moeder was Atalia, die dogter van Omri. Hy het ook gewandel in die weë van die huis van Agab, want sy moeder was sy raadgewer om goddeloos te handel. Daarom het hy gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE soos die huis van Agab, want hulle was sy raadgewers ná die dood van sy vader tot sy verderf. Hy het ook volgens hulle raad geloop en saam met Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, getrek om oorlog teen Hásael, die koning van Aram, by Ramot in Gílead, en die Arameërs het Joram verslaan. En hy het teruggekeer om in Jísreël genees te word vanweë die wonde wat hom by Rama gegee is toe hy teen Hásael, die koning van Aram, geveg het. En Asárja, die seun van Joram, die koning van Juda, het afgegaan om Joram, die seun van Agab, in Jísreël te sien, omdat hy siek was. En die vernietiging van Ahásia was deur God deur na Joram te kom; want toe hy gekom het, het hy saam met Joram uitgetrek teen Jehu, die seun van Nimsi, wat die HERE gesalf het om die huis van Agab uit te roei. En toe Jehu besig was om oordeel te voltrek aan die huis van Agab en die vorste van Juda en die seuns van die broers van Ahásia, wat Ahásia bedien het, gevind het, het hy hulle gedood. En hy het Ahasia gesoek, en hulle het hom gevang (want hy was weggesteek in Samaria) en hom na Jehu gebring; en nadat hulle hom doodgemaak het, het hulle hom begrawe; want, sê hulle, hy is die seun van Josafat wat gesoek het die HERE met sy hele hart. Die huis van Ahasia het dus geen mag gehad om die koninkryk stil te hou nie. Maar toe Atalia, die moeder van Ahásia, sien dat haar seun dood was, het sy opgestaan en die hele koninklike geslag van die huis van Juda vernietig.

2 KRONIEKE 22:1-10 Die Boodskap (DB)

Die mense van Jerusalem het vir Ahasia, Joram se jongste seun, koning gemaak. Hy was al wat oor was nadat die bende wat hulle saam met die Arabiere aangeval het, al die ouer kinders doodgemaak het. Ahasia, koning Joram se seun, het toe koning geword. Hy was 22 en hy het net ’n jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n dogter van Omri. Hy het ook soos die ander konings van Israel opgetree, want sy ma, Atalia, was sy raadgewer oor godsdienstige sake. Hy het dinge gedoen wat vir die Here totaal en al onaanvaarbaar was. Hy was net soos Agab se familie. Na sy pa se dood was hulle sy raadgewers. Dit het tot sy ondergang gelei. Hulle het aanbeveel dat hy saam met Joram teen die Arameërs moes gaan veg. Joram was Agab se seun en koning van Israel. Hulle twee het toe by Ramot in Gilead teen Gasael, die Aramese koning, oorlog gaan maak. Die Arameërs het Joram in die geveg gewond. Joram het na Jisreël toe gegaan om van sy wonde te herstel. Ahasia het hom toe daar in Jisreël kom besoek. Die besoek was egter ’n groot fout. Die Here het besluit om Ahasia te straf. Dit het só gebeur: Terwyl Ahasia by Joram gekuier het, het hulle twee uitgegaan om vir Jehu, Nimsi se seun, te ontmoet. Jehu is pas tevore deur die Here aangewys om Agab se koningshuis uit te wis. Terwyl Jehu besig was om Agab se hele familie dood te maak, het hy op ’n groep familielede en amptenare van Ahasia afgekom. Hy het hulle ook doodgemaak. Toe het hy na Ahasia begin soek. Van sy mense het vir Ahasia gekry waar hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom gevang en vir Jehu gebring. Jehu het hom toe ook doodgemaak. Ahasia is soos ’n koning begrawe, want die mense het gesê: “Hy was darem Josafat se kleinseun en Josafat het alles in sy vermoë gedoen om die Here te dien.” Na Ahasia se dood was daar niemand wat hom as koning kon opvolg nie. Toe Atalia hoor dat haar seun, Ahasia, dood is, het sy besluit om ook die res van die koningsgesin uit te wis.

2 KRONIEKE 22:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die inwoners van Jerusalem het toe Ahasia, die jongste seun van Joram, tot koning gekroon. Die plunderende bende Arabiere het al die ouer seuns doodgemaak. Ahasia, die jongste seun van Joram, het as koning oor Juda regeer. Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het en het een jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van Omri. Ahasia het ook die goddelose voorbeeld van die koningshuis van Agab gevolg, want sy ma het hom aangemoedig om verkeerde dinge te doen. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die HERE, net soos die koningshuis van Agab gedoen het. Na die dood van sy pa het Agab se familie sy raadgewers geword. Hulle het hom tot ondergang gelei. Onder invloed van hulle raad het koning Ahasia ’n verdrag met koning Joram, seun van Agab van Israel, gesluit. Hulle het uitgetrek teen koning Gasael van Aram in Ramot-Gilead, maar die Arameërs het Joram in die geveg gewond. Joram het na Jisreël teruggegaan om van die wonde te herstel wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael, die koning van Aram, te Rama. Koning Ahasia van Juda het ook na Jisreël gegaan om hom te besoek. Dit was ’n fout, want die HERE het besluit om Ahasia te straf. Ahasia en Joram het Jehu seun van Nimsi tegemoetgegaan. Die HERE het bepaal dat Jehu die koningshuis van Agab tot niet moes maak. Terwyl Jehu besig was om oordeel oor Agab se koningshuis te voltrek, het hy afgekom op leiers van Juda en die seuns van Ahasia se bloedverwante wat Ahasia bygestaan het. Hy het hulle doodgemaak. Jehu het Ahasia laat soek en hom gekry waar hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom na Jehu toe gebring en hy het hom ook doodgemaak. Ahasia het ’n behoorlike begrafnis gekry, want daar is gesê: “Hy was die kleinkind van Josafat, ’n man wat die HERE met sy hele hart gedien het.” Daar was geen oorlewende lid van Ahasia se familie wat in staat was om die koninkryk te regeer nie. Toe Atalia, die ma van koning Ahasia van Juda, hoor dat haar seun dood is, het sy die res van Juda se koningshuis uitgeroei.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid