2 Kronieke 22:1-10

2 Kronieke 22:1-10 AFR20

Die inwoners van Jerusalem het Ahasia, Jehoram se jongste seun, in sy plek koning gemaak, want al die ouer seuns is doodgemaak deur die rowerbende wat saam met die Arabiere die kamp binnegekom het. So het Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, koning geword. Ahasia was twee-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Atalia, kleindogter van Omri. Ook hy het die paaie van die huis van Agab gevolg deur goddeloos op te tree – sy moeder was immers sy raadgewer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, net soos die huis van Agab, want hulle was sy raadgewers ná die dood van sy vader, tot sy eie ondergang. Hy het ook hulle raad gevolg en saam met Joram, seun van Agab, koning van Israel, gegaan vir die geveg teen Gasael, koning van Aram, by Ramot in Gilead. Die Arameërs het Joram toe gewond, en hy het teruggekeer om in Jisreël te herstel van sy wonde wat die Arameërs hom toegedien het by Rama, toe hy teen Gasael, koning van Aram, geveg het. Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, het toe afgegaan om Joram, seun van Agab, in Jisreël te besoek, omdat hy siek was. Van God se kant af was dit 'n beskikking oor Ahasia om by Joram uit te kom. Met sy aankoms het hy saam met Joram uitgetrek teen Jehu, seun van Nimsi, vir wie die HERE gesalf het om die huis van Agab uit te roei. Pas nadat Jehu die oordeel oor die huis van Agab voltrek het, het hy afgekom op die leiers van Juda en die seuns van Ahasia se broers wat Ahasia bygestaan het. Hy het hulle toe om die lewe gebring. Daarna het hy na Ahasia gesoek. Hulle het hom gevange geneem terwyl hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom na Jehu gebring en hom doodgemaak. Hulle het hom begrawe, want hulle het gesê: “Hy is 'n kleinseun van Josafat, wat die HERE met sy hele hart gesoek het.” Die huis van Ahasia het toe niemand gehad wat opgewasse vir die koningskap was nie. Toe Atalia, Ahasia se moeder, sien dat haar seun dood is, het sy daartoe oorgegaan om die hele koninklike geslag van die huis van Juda om die lewe te bring.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Kronieke 22:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid