2 Kronieke 22

22
Ahasia
(Kyk ook 2 Kon 8:25-29; 9:27-29)
1'n Klomp manne het saam met die Arabiere die leër van Juda aangeval. Hulle het die ouer seuns van Joram almal doodgemaak. Die mense van Jerusalem het toe Joram se jongste seun Ahasia koning gemaak nadat sy pa gesterf het. So het Ahasia, die seun van koning Joram van Juda, koning geword. 2Hy was 42 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was een jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Atalia, 'n kleindogter van Omri. 3Ahasia het ook gelewe soos die familie van Agab, want sy ma het vir hom gesê om verkeerde dinge te doen. 4Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos die familie van Agab, want ná sy pa se dood was hulle sy raadgewers. Dit is hoekom hy gesterf het. 5Hy het gedoen wat die familie van Agab vir hom gesê het om te doen. Ahasia het saam met Joram seun van koning Agab van Israel oorlog gaan maak teen koning Gasael van Aram. Dit was by die stad Ramot in Gilead. Die Arameërs het daar vir Joram raakgeskiet, 6en hy het teruggekom na die stad Jisreël sodat sy seerplekke gesond kon word, die seerplekke wat hy gekry het toe hy oorlog gemaak het teen koning Gasael van Aram. Koning Asarja van Juda, seun van Joram, het na die stad Jisreël gekom om vir Joram seun van Agab te besoek, want Joram was siek. 7Toe het met Ahasia gebeur wat God besluit het. Ahasia het by Joram gekom, en hy het vir Jehu seun van Nimsi daar ontmoet. Die Here het vir Jehu gesalf en gekies om die familie van Agab dood te maak. 8Jehu was besig om die familie van Agab te straf. Hy het die amptenare van Juda gekry en ook die seuns van Ahasia se broers, hulle het vir Ahasia gewerk. Jehu het hulle doodgemaak. 9Jehu het toe vir Ahasia gesoek. Ahasia het in die stad Samaria weggekruip, maar hulle het hom daar gevang. Hulle het hom na Jehu toe gebring en hulle het hom doodgemaak. Hulle het hom begrawe, want hulle het gesê: “Hy is die kleinseun van Josafat, Josafat het die Here met sy hele hart gedien.”
Atalia word koningin
(Kyk ook 2 Kon 11:1-3)
Nadat Ahasia gesterf het, was daar niemand in sy familie wat dadelik koning kon word nie. 10En toe Ahasia se ma Atalia hoor dat haar seun dood is, het sy dadelik begin om almal in die koning van Juda se familie te vermoor. 11Maar prinses Jehoseba het Ahasia se seun Joas weggeneem van die prinse wat sou sterf, niemand het dit gesien nie. Sy het vir Joas en die vrou wat hom moes oppas, weggesteek in 'n slaapkamer. Jehoseba was 'n dogter van koning Joram en sy was 'n suster van Ahasia. Sy was getroud met die priester Jojada. So het dit gebeur dat Joas nie gesterf het nie. 12Hulle het vir Joas ses jaar lank in die tempel weggesteek terwyl Atalia oor die land regeer het.

Tans Gekies:

2 Kronieke 22: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid