2 KRONIEKE 20:1-9
2 KRONIEKE 20:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Later het die Moabiete en Ammoniete gekom om oorlog te maak teen koning Josafat, en saam met hulle het nog ander Ammoniete ook gekom. Party mense het vir Josafat kom sê: “Daar het 'n groot klomp manne gekom om jou land aan te val. Hulle het gekom van anderkant die Dooie See uit die land Edom. Hulle is al klaar in die stad Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” Josafat het bang geword, en hy het besluit om vir die Here te vra wat Hy sê. Josafat het gesê al die mense in Juda moet vas. Die mense van Juda het bymekaargekom om vir die Here te vra wat hulle moet doen. Hulle het uit al die stede van Juda gekom om vir die Here te vra om hulle te help. Josafat het gaan staan by die tempel voor die nuwe oop stuk grond. Hy het in die volksvergadering van Juda en Jerusalem gaan staan en hy het gesê: “Here, God van ons voorvaders, U is God in die hemel, U regeer oor al die lande van die volke. U is sterk, niemand kan teen U bly staan nie. Ons God, U het die mense van hierdie land weggejaag om vir u volk Israel plek te maak en U het die land vir altyd vir die nageslag van u vriend Abraham gegee. Hulle het hier kom woon en hulle het hier 'n tempel gebou vir U. Hulle het gesê: ‘Wanneer dit sleg gaan met ons, wanneer U ons straf met oorlog of pes of honger, dan sal ons voor hierdie tempel en voor U kom staan, want hierdie tempel behoort aan U. Ons sal bid en vra dat U ons moet help, en U sal hoor, U sal ons red.’
2 KRONIEKE 20:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon, en saam met hulle 'n deel van die Meüniete teen Jósafat gekom om te veg. Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom 'n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar — dit is Éngedi — het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda 'n vasdag uitgeroep. En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die HERE te soek. Toe gaan Jósafat in die vergadering van Juda en Jerusalem staan, in die huis van die HERE, voor die nuwe voorhof; en hy sê: HERE, God van ons vaders, is Ú nie God in die hemel nie, en is Ú nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie. Het Ú, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie? En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U 'n heiligdom tot eer van u Naam gebou, met die gedagte: As daar oor ons onheil kom — swaard, straf of pes of hongersnood — sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.
2 KRONIEKE 20:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Later het die Moabiete en die Ammoniete, en saam met hulle 'n groep Meüniete , 'n veldtog teen Josafat begin. Josafat het berig gekry: “'n Groot menigte van oorkant die Dooie See, van Edom af, het teen u opgetrek. Hulle is al by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek. Hy het 'n vasdag in die hele Juda uitgeroep, en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here se hulp te vra. Josafat het opgestaan in die gemeente van Juda en Jerusalem, in die tempel reg voor die nuwe voorhof, en gebid: “Here, God van ons voorvaders, U is God. U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies. Uit u hand kom die mag en die krag. Niemand kan teen U stand hou nie. Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as 'n blywende besitting gegee het. Hulle het hulle hier gevestig en hier vir u Naam 'n heiligdom gebou en gesê: ‘As U 'n ramp oor ons bring, of 'n oorlog om ons te straf, of pes, of hongersnood, sal ons voor hierdie tempel kom staan, voor U, want u Naam is in hierdie tempel, en ons sal na U om hulp roep uit ons nood. Hoor dan en help ons!’
2 KRONIEKE 20:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Tyd daarna het die Moabiete en Ammoniete, en saam met hulle van die Meüniete, teen Josafat opgetrek om oorlog te voer. Mense het gekom en Josafat ingelig: “'n Groot menigte trek teen u op van anderkant die see, van Aram se kant af. Kyk, hulle is al by Gaseson-Tamar. ” Gaseson-Tamar is En-Gedi. Josafat was bang, en hy was vasbeslote om die HERE te raadpleeg. Hy het 'n vasdag uitgeroep oor die hele Juda. Juda het toe byeengekom om by die HERE hulp te soek; ja, uit al die dorpe van Juda het hulle gekom om die HERE te soek. Josafat het in die byeenkoms van Juda en Jerusalem, in die huis van die HERE, voor die nuwe binneplein gestaan en gesê: “HERE, God van ons voorouers, is U nie 'n God wat in die hemel is nie? U heers oor al die koninkryke van die nasies. In u hand is krag en mag, en niemand kan teen U standhou nie. Is dit nie U, ons God, wat die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf het en dit vir ewig aan die nageslag van u vriend Abraham gegee het nie? Hulle het daarin gaan woon en vir U daarin 'n heiligdom tot eer van u Naam gebou, en gesê, ‘As daar onheil oor ons kom – die swaard, oordeel, pessiekte, hongersnood – sal ons voor hierdie huis, voor U gaan staan, omdat u Naam in hierdie huis is, en omdat ons in ons nood na U om hulp roep, sal U hoor en red.’
2 KRONIEKE 20:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon en ander saam met hulle behalwe die Ammoniete teen Jósafat opgetrek om te veg. Toe kom daar sommige wat vir Jósafat vertel en gesê het: Daar kom 'n groot menigte teen jou van anderkant die see, duskant Aram; en kyk, hulle is in Hasazontamar, dit is Engedi. En Jósafat was bevrees en het hom begin soek om die HERE te soek en 'n vasdag in die hele Juda uitgeroep. En Juda het bymekaargekom om die HERE om hulp te vra; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die HERE te soek. En Jósafat het in die vergadering van Juda en Jerusalem, in die huis van die HERE, voor die nuwe voorhof gestaan, en gesê: HERE, God van ons vaders, is U nie God in die hemel nie? en heers jy nie oor al die koninkryke van die heidene nie? en in u hand is daar nie krag en krag nie, sodat niemand u kan weerstaan nie? Is U nie ons God wat die inwoners van hierdie land voor u volk Israel verdryf het en dit aan die nageslag van u vriend Abraham vir ewig gegee het nie? En hulle het daarin gewoon en vir jou 'n heiligdom daarin gebou vir u Naam en gesê: As ons, wanneer onheil oor ons kom, soos die swaard, oordeel of pes of hongersnood, ons voor hierdie huis en voor u aangesig staan (want u naam is in hierdie huis) en U roep in ons ellende, dan U sal hoor en help.
2 KRONIEKE 20:1-9 Die Boodskap (DB)
Na ’n ruk het ’n klomp Moabiete, Ammoniete en Meüniete teen Josafat oorlog kom maak. Die volgende boodskap het Josafat bereik: “Daar kom ’n groot leër aan om teen u te veg. Hulle kom van Edom se kant af, anderkant die Dooie See, en het reeds by Gaseson-Tamar (oftewel En-Gedi) aangekom.” Toe hy dit hoor, het Josafat geskrik en besluit om die Here te raadpleeg. Hy het beveel dat al die mense van Juda vir ’n dag lank niks mag eet nie. Hulle het toe uit al die stede en dorpe van Juda bymekaargekom om die Here te vra om hulle te help. Josafat het tussen al die mense van Juda en Jerusalem voor die tempel se nuwe voorhof gaan staan. Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, U is die enigste God in die hemel en die Heerser oor alle koninkryke op aarde. U is sterk en magtig. Niemand kan U wen nie! God, het U nie die volke wat in die land gewoon het, weggejaag toe u volk hier aangekom het nie? Het U nie toe die land vir Abraham se nageslag gegee om vir altyd hier te woon nie? U volk het hier kom bly en hierdie tempel vir U gebou. Hulle het gesê: ‘As daar eendag iets vreesliks met ons gebeur, soos ’n oorlog, ’n vloed, siekte of hongersnood, sal ons hier by die tempel bymekaarkom. Dit is waar U woon. Ons sal hier kom pleit dat U ons moet help en U sal ons hoor en ons red!’
2 KRONIEKE 20:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar. Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: “’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die HERE raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas. Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die HERE se hulp te soek. Josafat het opgestaan in die vergadering van die mense van Juda en Jerusalem voor die nuwe voorhof in die tempel van die HERE. Hy het gebid: “HERE, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie. Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie? U volk het hier kom woon en hierdie tempel vir U gebou. Hulle het gesê: ‘As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons kom staan in u teenwoordigheid voor hierdie tempel waar u Naam vereer word. Ons sal tot U roep uit ons ellende, en U sal ons hoor en ons verlos.’