2 Kronieke 20:1-9

2 Kronieke 20:1-9 ABA

Later het die Moabiete en Ammoniete gekom om oorlog te maak teen koning Josafat, en saam met hulle het nog ander Ammoniete ook gekom. Party mense het vir Josafat kom sê: “Daar het 'n groot klomp manne gekom om jou land aan te val. Hulle het gekom van anderkant die Dooie See uit die land Edom. Hulle is al klaar in die stad Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” Josafat het bang geword, en hy het besluit om vir die Here te vra wat Hy sê. Josafat het gesê al die mense in Juda moet vas. Die mense van Juda het bymekaargekom om vir die Here te vra wat hulle moet doen. Hulle het uit al die stede van Juda gekom om vir die Here te vra om hulle te help. Josafat het gaan staan by die tempel voor die nuwe oop stuk grond. Hy het in die volksvergadering van Juda en Jerusalem gaan staan en hy het gesê: “Here, God van ons voorvaders, U is God in die hemel, U regeer oor al die lande van die volke. U is sterk, niemand kan teen U bly staan nie. Ons God, U het die mense van hierdie land weggejaag om vir u volk Israel plek te maak en U het die land vir altyd vir die nageslag van u vriend Abraham gegee. Hulle het hier kom woon en hulle het hier 'n tempel gebou vir U. Hulle het gesê: ‘Wanneer dit sleg gaan met ons, wanneer U ons straf met oorlog of pes of honger, dan sal ons voor hierdie tempel en voor U kom staan, want hierdie tempel behoort aan U. Ons sal bid en vra dat U ons moet help, en U sal hoor, U sal ons red.’