2 Kronieke 20:1-9

2 Kronieke 20:1-9 AFR20

'n Tyd daarna het die Moabiete en Ammoniete, en saam met hulle van die Meüniete, teen Josafat opgetrek om oorlog te voer. Mense het gekom en Josafat ingelig: “'n Groot menigte trek teen u op van anderkant die see, van Aram se kant af. Kyk, hulle is al by Gaseson-Tamar. ” Gaseson-Tamar is En-Gedi. Josafat was bang, en hy was vasbeslote om die HERE te raadpleeg. Hy het 'n vasdag uitgeroep oor die hele Juda. Juda het toe byeengekom om by die HERE hulp te soek; ja, uit al die dorpe van Juda het hulle gekom om die HERE te soek. Josafat het in die byeenkoms van Juda en Jerusalem, in die huis van die HERE, voor die nuwe binneplein gestaan en gesê: “HERE, God van ons voorouers, is U nie 'n God wat in die hemel is nie? U heers oor al die koninkryke van die nasies. In u hand is krag en mag, en niemand kan teen U standhou nie. Is dit nie U, ons God, wat die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf het en dit vir ewig aan die nageslag van u vriend Abraham gegee het nie? Hulle het daarin gaan woon en vir U daarin 'n heiligdom tot eer van u Naam gebou, en gesê, ‘As daar onheil oor ons kom – die swaard, oordeel, pessiekte, hongersnood – sal ons voor hierdie huis, voor U gaan staan, omdat u Naam in hierdie huis is, en omdat ons in ons nood na U om hulp roep, sal U hoor en red.’