1 SAMUEL 10:17-27

1 SAMUEL 10:17-27 Bybel vir almal (ABA)

Samuel het die volk bymekaargeroep by die tempel in Mispa. Daar het hy vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek het julle uit Egipte gebring en Ek het julle gered van die Egiptenaars en van al die volke wat julle verdruk het.’ Maar julle het vandag vir julle God gesê dat julle Hom nie wil hê nie, Hy wat julle altyd red wanneer julle swaarkry en wanneer dit sleg gaan met julle. Julle het vir Hom gesê: ‘U moet 'n koning kies en U moet hom aanstel oor ons.’ Nou goed, kom staan nou voor die Here, elke stam en groep bymekaar.” Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die Here het die Benjamin-stam gekies. Toe het hy die families van die Benjamin-stam laat nader kom, en die Here het die Matri-familie gekies. Daarna het die Here vir Saul seun van Kis gekies. Maar toe hulle vir Saul soek, kon hulle hom nie kry nie. Hulle het toe vir die Here gevra: “Is die man hier?” En die Here het gesê: “Ja, kyk, hy kruip weg tussen die sakke.” Hulle het toe gehardloop en vir Saul uitgebring. Toe hy tussen die mense staan, was hy 'n kop langer as al die ander mense. Samuel het vir al die mense gesê: “Julle sien die Here het hierdie man gekies. Nie een van die ander mense is soos hy nie.” Toe skree al die mense: “Ons bid dat die koning lank moet lewe!” Samuel het toe vir die mense gesê wat die koning alles mag doen, en Samuel het dit in 'n boek geskryf. Hy het die boek in die tempel neergesit. Daarna het hy die mense laat gaan, elkeen na sy huis. Saul het ook na sy huis in Gibea gegaan. Die Here het 'n paar manne laat besluit om saam met Saul te gaan. Party slegte mense het gesê: “Hierdie man kan niks doen vir ons nie.” Hulle het hom nie gerespekteer nie en hulle het nie presente vir hom gebring nie. Maar Saul het gemaak of hy nie hoor wat hulle sê nie.

1 SAMUEL 10:17-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Samuel het die volk na die HERE in Mispa byeengeroep en aan die kinders van Israel gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke wat julle verdruk het. Maar julle verwerp vandag julle God wat julle uit al jul onheile en node verlos het, en sê: Nee, maar jy moet 'n koning oor ons aanstel. Stel julle dan nou op voor die aangesig van die HERE volgens julle stamme en volgens julle geslagte. Toe Samuel dan al die stamme van Israel laat nader kom het, is die stam van Benjamin aangewys; en toe hy die stam van Benjamin volgens sy geslagte laat nader kom het, is die geslag van Matri aangewys; verder is Saul, die seun van Kis, aangewys. En hulle het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie. En hulle het die HERE verder geraadpleeg: Het nog iemand hierheen gekom? En die HERE sê: Kyk, hy het tussen die pakgoed weggekruip. Daarop het hulle geloop en hom daarvandaan gebring; en toe hy tussen die mense gaan staan, was hy van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk. En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe! Daarna het Samuel die reg van die koningskap voor die volk afgekondig en dit in 'n boek geskrywe en voor die aangesig van die HERE neergelê. En Samuel het die hele volk elkeen na sy huis laat gaan. En Saul het ook na sy huis gegaan in Gíbea; en die helde wie se hart God geroer het, het met hom saamgegaan. Maar die deugniete het gesê: Hoe kan hierdie man ons verlos? En hulle het hom verag en hom geen geskenk gebring nie; maar hy het hom doof gehou.

1 SAMUEL 10:17-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Samuel die volk by Mispa na die Here toe geroep. Hy het vir die Israeliete gesê: “So het die Here die God van Israel gesê: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat vir julle verdruk het. Maar deurdat julle sê: ‘Nee, U móét 'n koning oor ons aanstel,’ verwerp julle vandag julle God wat vir julle uit alle gevare en verdrukking verlos het. Kom staan dan nou voor die Here volgens julle stamme en julle onderafdelings.” Samuel het al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam Benjamin is aangewys. Samuel het die stam Benjamin volgens sy families laat nader kom, en die familie van Matar is aangewys. Vervolgens is Saul seun van Kis aangewys, maar toe hulle hom soek, was hy weg. Hulle het die Here gevra: “Moet hy nog kom?” Die Here het geantwoord: “Nee, hy is al hier. Hy kruip weg tussen die bondels goed.” Hulle het gehardloop en hom daarvandaan gebring en hom tussen die volk laat staan. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote. Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here uitgekies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” Toe juig almal en sê: “Lank lewe die koning!” Samuel het hierna die reg van die koning aan die volk bekend gemaak, dit in 'n boek opgeteken en voor die Here neergesit. Daarna het Samuel die hele volk weggestuur, elkeen na sy woonplek toe. Ook Saul het na sy huis toe gegaan in Gibea. Die dapperes wie se hart deur God geroer is, het saam met hom gegaan. Maar die kwaadwilliges het gevra: “Hoe sal hý ons red?” Hulle het hom met minagting behandel en geen geskenk vir hom gebring nie, maar daaraan het Saul hom nie gesteur nie.

1 SAMUEL 10:17-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Samuel het die volk opgeroep na die HERE in Mispa. Hy het vir die Israeliete gesê: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat Israel uit Egipte laat optrek het. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het.’ “Julle, egter, het vandag julle God verwerp wat julle uit alle gevare en benoudhede verlos. Julle het gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet jy oor ons aanstel. ’ Neem dan nou plek in voor die HERE volgens julle stamme en volgens julle afdelings.” Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam van Benjamin is aangewys. Hy het die stam van Benjamin volgens familiegroepe laat nader kom, en die familiegroep van Matri is aangewys. Toe is Saul, seun van Kis, aangewys. Hulle het hom gesoek, maar hy kon nie gevind word nie. Hulle het die HERE weer geraadpleeg: “Het nog iemand hierheen gekom?” Die HERE het gesê: “Kyk, hy kruip weg by die pakgoed.” Hulle het gehardloop en hom van daar af gebring. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk. Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die HERE gekies het? Ja, daar is niemand soos hy onder die hele volk nie.” Die hele volk het hom toegejuig met die woorde: “Lank lewe die koning!” Samuel het toe met die volk gepraat oor die regte verbonde aan die koningskap, en dit in 'n •boekrol geskryf. Hy het dit voor die HERE neergelê. Daarna het Samuel die hele volk laat gaan, elkeen na sy huis. Ook Saul het na sy huis in Gibea gegaan. Bekwame manne wie se harte deur God aangeraak is, het saam met hom gegaan. Maar booswigte het gesê: “Hoe kan hierdie man ons verlos?” En hulle het hom geminag en geen geskenk vir hom geneem nie, maar hy het hom doof gehou.

1 SAMUEL 10:17-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Samuel het die volk tot die HERE byeengeroep in Mispa; en aan die kinders van Israel gesê: So sê die HERE, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke en van die wat julle verdruk het. En julle het vandag julle God verwerp, wat julle uit al julle benoudhede en julle verdrukkinge gered het; en julle het vir hom gesê: Nee, maar stel 'n koning oor ons aan. Stel julle dan nou voor die aangesig van die HERE volgens julle stamme en volgens julle duisende. En toe Samuel al die stamme van Israel laat nader kom, is die stam van Benjamin geneem. Toe hy die stam van Benjamin volgens hulle families laat nader kom het, is die geslag van Matri geneem, en Saul, die seun van Kis, is gevange geneem; en toe hulle hom soek, kon hy nie gevind word nie. Daarom het hulle die HERE verder geraadpleeg of die man nog daarheen sou kom. En die HERE antwoord: Kyk, hy het hom tussen die goed verberg. En hulle het gehardloop en hom daarvandaan gaan haal; en toe hy tussen die volk staan, was hy hoër as al die mense van sy skouers af en boontoe. Toe sê Samuel aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitverkies het, dat daar onder die hele volk niemand soos hy is nie? En die hele volk het uitgeroep en gesê: Mag die koning die koning red! Toe het Samuel aan die volk die wyse van die koninkryk vertel en dit in 'n boek geskryf en dit voor die aangesig van die HERE neergelê. En Samuel het die hele volk weggestuur, elkeen na sy huis. En Saul het ook huis toe gegaan in Gíbea; en daar het saam met hom 'n bende manne gegaan wie se harte God aangeraak het. Maar die kinders van Belial het gesê: Hoe sal hierdie man ons red? En hulle het hom verag en vir hom geen geskenke gebring nie. Maar hy het stilgebly.

1 SAMUEL 10:17-27 Die Boodskap (DB)

Samuel het die volk bymekaargeroep by die Here se altaar in Mispa. Hy het vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek self het julle, die Israeliete, laat wegtrek uit Egipte en Ek het julle vrygemaak van die mag van die Egiptenaars en van al die ander regerings wat julle onderdruk het.’” Verder sê Samuel: “Maar julle, Israeliete, het nou die rug vir God gedraai, dié God wat julle altyd uithelp wanneer daar rampe is en julle moeilikheid het. Julle het mos gesê: ‘Nee, stel ’n koning oor ons aan!’ Kom staan dan nou hier voor die Here volgens julle stamme en families.” Toe Samuel al die stamhoofde van Israel by die altaar laat staan, is die stam van Benjamin geloot. Toe die familiehoofde van die stam van Benjamin na die altaar kom, is die familie van Matri geloot. Uiteindelik is Saul, Kis se seun, geloot. Maar toe hulle hom soek, is hy nie daar nie! Daarop vra hulle vir die Here: “Is die man wat geloot is hier?” Die Here se antwoord was: “Ja, hy kruip tussen die bagasie weg.” Hulle het hom gou daar gaan haal, en toe hy tussen die ander mense staan, was hy ’n kop langer as hulle. Samuel sê toe vir die volk: “Sien julle wie het die Here gekies? Daar is nie nog een soos hy nie.” Daarop skree die volk: “Lank lewe die koning!” Samuel het vir die volk die reëls van die koningskap verduidelik en dit op ’n rol geskryf wat hy in die tempel neergesit het. Daarna het hy almal huis toe gestuur. Saul is ook na sy huis in Gibea toe. ’n Klompie dapper mans is saam met hom, want die Here het hulle elkeen se hart geroer. Maar ’n klomp niksnutte het gesê: “Moet dié vent ons uit die moeilikheid kry?” Hulle het nie respek vir hom gehad nie en het nie eers ’n geskenk vir hom gevat nie. Saul het hom maar doof gehou.

1 SAMUEL 10:17-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Samuel het die hele volk voor die HERE by Mispa bymekaargeroep en die volgende boodskap van die HERE God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het. Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die HERE volgens julle stamme en familiegroepe.” Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die HERE en die stam van Benjamin is aangewys. Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die HERE, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie. Hulle vra toe vir die HERE: “Maar is die man al hier?” Toe antwoord die HERE: “Hy kruip weg agter die mense se reisgoed.” Hulle het hom daar gekry en vorentoe laat kom. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigiemand anders. Samuel sê toe vir die volk: “Dit is die man wat die HERE gekies het om julle koning te wees. Daar is niemand in Israel wat sy gelyke is nie!” Toe roep al die mense: “Mag die koning lank lewe!” Daarna het Samuel die mense ingelig oor die regte en verpligtings van ’n koning. Hy het dit op ’n rol neergeskryf en dit voor die HERE neergesit. Toe het Samuel die mense huis toe gestuur. Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea. Hy was vergesel van ’n groep dapper manne wie se harte deur God aangeraak is. Maar daar was ook sommige kwaadwillige manne wat ontevrede was en gesê het: “Hoe kan hierdie man ons red?” Hulle het hom verag en het geen geskenke vir hom gebring nie. Saul het hom egter nie aan hulle gesteur nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid