I SAMUEL 10:17-27

I SAMUEL 10:17-27 AFR53

En Samuel het die volk na die HERE in Mispa byeengeroep en aan die kinders van Israel gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke wat julle verdruk het. Maar julle verwerp vandag julle God wat julle uit al jul onheile en node verlos het, en sê: Nee, maar jy moet 'n koning oor ons aanstel. Stel julle dan nou op voor die aangesig van die HERE volgens julle stamme en volgens julle geslagte. Toe Samuel dan al die stamme van Israel laat nader kom het, is die stam van Benjamin aangewys; en toe hy die stam van Benjamin volgens sy geslagte laat nader kom het, is die geslag van Matri aangewys; verder is Saul, die seun van Kis, aangewys. En hulle het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie. En hulle het die HERE verder geraadpleeg: Het nog iemand hierheen gekom? En die HERE sê: Kyk, hy het tussen die pakgoed weggekruip. Daarop het hulle geloop en hom daarvandaan gebring; en toe hy tussen die mense gaan staan, was hy van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk. En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe! Daarna het Samuel die reg van die koningskap voor die volk afgekondig en dit in 'n boek geskrywe en voor die aangesig van die HERE neergelê. En Samuel het die hele volk elkeen na sy huis laat gaan. En Saul het ook na sy huis gegaan in Gíbea; en die helde wie se hart God geroer het, het met hom saamgegaan. Maar die deugniete het gesê: Hoe kan hierdie man ons verlos? En hulle het hom verag en hom geen geskenk gebring nie; maar hy het hom doof gehou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid