1 Samuel 10:17-27

1 Samuel 10:17-27 ABA

Samuel het die volk bymekaargeroep by die tempel in Mispa. Daar het hy vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek het julle uit Egipte gebring en Ek het julle gered van die Egiptenaars en van al die volke wat julle verdruk het.’ Maar julle het vandag vir julle God gesê dat julle Hom nie wil hê nie, Hy wat julle altyd red wanneer julle swaarkry en wanneer dit sleg gaan met julle. Julle het vir Hom gesê: ‘U moet 'n koning kies en U moet hom aanstel oor ons.’ Nou goed, kom staan nou voor die Here, elke stam en groep bymekaar.” Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die Here het die Benjamin-stam gekies. Toe het hy die families van die Benjamin-stam laat nader kom, en die Here het die Matri-familie gekies. Daarna het die Here vir Saul seun van Kis gekies. Maar toe hulle vir Saul soek, kon hulle hom nie kry nie. Hulle het toe vir die Here gevra: “Is die man hier?” En die Here het gesê: “Ja, kyk, hy kruip weg tussen die sakke.” Hulle het toe gehardloop en vir Saul uitgebring. Toe hy tussen die mense staan, was hy 'n kop langer as al die ander mense. Samuel het vir al die mense gesê: “Julle sien die Here het hierdie man gekies. Nie een van die ander mense is soos hy nie.” Toe skree al die mense: “Ons bid dat die koning lank moet lewe!” Samuel het toe vir die mense gesê wat die koning alles mag doen, en Samuel het dit in 'n boek geskryf. Hy het die boek in die tempel neergesit. Daarna het hy die mense laat gaan, elkeen na sy huis. Saul het ook na sy huis in Gibea gegaan. Die Here het 'n paar manne laat besluit om saam met Saul te gaan. Party slegte mense het gesê: “Hierdie man kan niks doen vir ons nie.” Hulle het hom nie gerespekteer nie en hulle het nie presente vir hom gebring nie. Maar Saul het gemaak of hy nie hoor wat hulle sê nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid