1 PETRUS 4:12-19

1 PETRUS 4:12-19 Bybel vir almal (ABA)

Liewe vriende, julle moenie verbaas wees wanneer julle baie swaar kry nie. Hierdie dinge toets julle en wil julle laat ophou om God te dien. Julle weet dat dit iets is wat kan gebeur. Julle kry swaar soos Christus swaargekry het, en julle moet bly wees. Dan sal julle nog baie meer bly kan wees op die dag wanneer almal sal sien dat Christus die Koning is. Wanneer ander mense vir julle beledig omdat julle aan Christus behoort, dan is julle gelukkige mense, want dan sal die Gees van Christus wat die Koning is, die Gees van God, by julle bly. Want niemand van julle moet swaarkry omdat hy 'n moordenaar is, of omdat hy 'n dief is, of omdat hy iemand is wat slegte dinge doen, of omdat hy nuuskierig is en praat oor ander mense nie. Maar as iemand swaarkry omdat hy in Christus glo, dan moet hy nie skaam wees nie. Nee, hy moet God prys omdat hy aan Christus behoort. God sal nou gou begin om mense te oordeel en Hy sal eerste begin oordeel by ons, ons wat die tempel van God is. Maar as God by óns begin om mense te oordeel, wat sal dan gebeur met die mense wat nie wou luister na die goeie boodskap wat van God kom nie? God sal hulle swaarder straf! Dit is nie maklik om iemand te red wat reg lewe nie, maar dit is baie moeiliker om mense te red wat nie vir God dien nie, mense wat sondaars is. Dit alles beteken: Daar is mense wat swaarkry omdat God dit besluit het, maar hulle moet aanhou om goeie dinge te doen en hulle moet hulleself vir God gee. Dit is Gód wat vir ons gemaak het, en ons kan Hom vertrou.

1 PETRUS 4:12-19 Die Boodskap (DB)

My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry. Dink maar aan Jesus. Hy het baie swaargekry. Julle moet eerder bly en opgewonde wees dat julle soos Hy is, al is dit ook dat julle soos Hy kan swaarkry omdat julle Christene is. Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom en almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. As mense lelik met julle praat omdat julle Jesus s’n is, moet julle bly wees. Dit is vir julle ’n bewys dat God se Gees, wat groot en belangrik is, in julle lewe aan die werk is en dat mense dit raaksien. Dit is egter heeltemal ’n ander saak as julle in die moeilikheid kom omdat julle iemand doodgemaak of ’n ander se goed gesteel het, sommer afstootlik opgetree of net skoor gesoek het. As mense julle egter treiter omdat julle Christene is, hoef julle nie een oomblik skaam te voel nie. Sê eerder vir God dankie en maak sy Naam groot omdat julle Christene genoem mag word. Dit is nou die tyd vir God om soos ’n regter te sê wat Hy van elkeen dink. Hy gaan begin met die gelowiges wat sy kinders is. As selfs ons voor God moet gaan staan soos voor ’n regter in die hof, hoe vreesaanjaend en verskriklik sal dit nie vir dié mense wees wat hulle hele lewe lank die rug vir God en sy goeie boodskap gedraai het nie. As die mense wat volgens God se wil geleef het beswaarlik gered word, wat wag dan nie op die mense wat God misken en sleg geleef het nie? As ’n mens al dié dinge in gedagte hou, moet die mense wat swaarkry omdat dit deel van God se plan met hulle is, Hom heeltemal vertrou met wat in hulle lewe gebeur. God het hulle immers gemaak en sal hulle nie in die steek laat nie. Hulle moet net op die regte pad bly deur goed te doen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid