1 PETRUS 3:2-9 - Compare All Versions
1 PETRUS 3:1-9 ABA (Bybel vir almal)
Julle het gehoor dat slawe gehoorsaam moet wees aan hulle eienaars. Vroue, julle moet ook gehoorsaam wees aan julle eie mans. Miskien glo party van julle mans nie in God nie. As daardie mans sien dat julle vir God respekteer en dat julle heeltemal reg lewe, dan kan die vroue wat mooi lewe, die mans laat besluit om vir God te dien. Julle kan dit doen, ook wanneer julle niks sê nie. Julle moet mooi wees, maar julle moenie mooi wees net omdat julle julle hare so mooi vleg dat almal altyd daarna wil kyk nie, of omdat julle goue juwele dra of omdat julle baie duur klere aantrek nie. Julle harte moet altyd mooi wees, julle moet nederig en rustig wees. Dit is baie belangrik vir God. Dit was voorheen dieselfde met die vroue wat in God geglo het en wat seker was dat Hy sal doen wat Hy gesê het. Hulle was gehoorsaam aan hulle eie mans, dit is hoekom hulle mooi was. So was Sara gehoorsaam aan Abraham. Sy het vir hom gesê: “Meneer.” Julle is nou Sara se kinders. Daarom moet julle goeie dinge doen en julle moenie bang wees vir enige iets wat vir julle wil bangmaak nie. Mans, julle moet onthou dat vroue swakker is as mans, en julle moet só met hulle saam lewe. Julle moet hulle respekteer omdat hulle saam met julle die ware lewe sal kry wat God vir julle sal gee. Julle moet dit doen sodat niks julle kan keer om reg te bid nie. Hierdie is die laaste dinge wat ek hieroor wil sê. Julle moenie met mekaar twis nie, julle moet dieselfde dink oor dinge. Julle moet bly wees saam met ander mense en julle moet hartseer wees saam met hulle. Julle moet lief wees vir mekaar soos broers en susters lief is vir mekaar. Julle moet jammer wees vir ander mense en julle moenie hoogmoedig wees nie. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle nie ook slegte dinge doen aan hulle nie. Wanneer mense slegte dinge sê van julle, dan moet julle nie ook slegte dinge sê van hulle nie. Nee, julle moet hulle seën, want die Here het julle gekies om ander mense te seën. As julle dit doen, dan sal Hy julle seën.
1 PETRUS 3:2-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het. Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie. Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is — sodat julle gebede nie verhinder mag word nie. EN eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.
1 PETRUS 3:1-9 AFR83 (Afrikaans 1983)
Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie. Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde. In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters. Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder. Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.
1 PETRUS 3:2-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
omdat hulle julle rein, eerbiedige leefwyse raaksien. Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie – soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie; maar op dit wat in die mens se hart verborge is – die onverganklike skoonheid van 'n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is. So het ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself immers destyds versier deur aan hulle eie mans onderdanig te wees – soos Sara aan Abraham gehoorsaam was, toe sy hom as “heer” aangespreek het. Julle het haar dogters geword, as julle doen wat goed is, en julle nie deur enige dreigement laat afskrik nie. Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie. Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.
1 PETRUS 3:2-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Terwyl hulle jou kuis gesprek met vrees aanskou. Wie se versiering mag dit nie die uiterlike versiering wees van die vleg van die hare en van die dra van goud of van die aantrek van klere nie; Maar laat dit die verborge mens van die hart wees, in dit wat nie verderflik is nie, ja, die versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat kosbaar is voor God. Want so het ook in die ou tyd die heilige vroue wat op God vertrou het, hulleself versier deur aan hulle eie mans onderdanig te wees. Net soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het: wie se dogters julle is, solank julle goed doen en nie met enige verbasing bang is nie. Net so moet julle, mans, saam met hulle woon volgens kennis, en eer aan die vrou, soos aan die swakker voorwerp, en as mede-erfgename van die genade van die lewe; dat u gebede nie verhinder word nie. Ten slotte, wees almal eensgesind, ontferm julle oor mekaar, liefde soos broeders, wees jammer, wees hoflik. Nie vergelde kwaad vir kwaad, of lastering vir laster nie, maar teendeel seën; omdat julle weet dat julle daartoe geroep is, sodat julle 'n seën sou beërwe.
1 PETRUS 3:2-9 DB (Die Boodskap)
moet die manier waarop jy as vrou leef, hom oortuig dat dit waarin jy glo, die waarheid is. Jou lewe praat baie harder as jou woorde. Dit is eintlik nie eens nodig om baie met jou man oor God te praat as jy leef soos Hy wil hê nie. So sal jy vir jou man wys hoe wonderlik God is. Ek vra julle: Wanneer is ’n vrou regtig mooi? Vir ’n Christen sit skoonheid nie aan die buitekant nie, maar dit kom van binne. Moenie julle te veel daaroor bekommer of julle klere in die mode is en julle hare pragtig versorg is nie. Mooi juweliersware is ook nie nodig om julle mooi te maak nie. Nee, ’n vrou se eintlike skoonheid kom van binne af. Hoe mooi is dit nie as ’n vrou sag en vriendelik optree nie! Of ’n vrou nou oud of jonk is, hierdie soort mooiheid kan jy nie van haar af wegvat nie. In God se oë is dit die kosbaarste juwele wat ’n vrou kan dra. In die ou tyd het die vroue wat God getrou met alles gedien het, hulle ook so mooi gemaak. Hulle was goeie vroue wat na hulle man geluister het. Dink aan Sara as voorbeeld. Sy het na Abraham geluister en erken dat hy die leiding in die gesin moes neem. As julle reg leef en nie toelaat dat mense julle bangmaak of verkleineer as julle vir God leef nie, behoort julle soos Sara ook aan God se geestelike gesin. Net so moet ’n man hom goed gedra in sy gesin. Jy moet altyd mooi optree teenoor jou vrou en haar nie seermaak of ongeskik met haar wees nie. Onthou, sy kan haarself nie so goed beskerm en verdedig soos jy kan nie. Net soos vir jou, het God ook vir vroue die ewige lewe uit genade gegee. As jy so leef, sal jy baie rustig met God in gebed kan praat sonder dat jou gewete jou pla. Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie. As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het.
1 PETRUS 3:2-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe. Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie. Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar. Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar. Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie. En julle, mans, behandel julle vroue met respek. Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee. As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie. ’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën.