1 PETRUS 3:13-15 - Compare All Versions
1 PETRUS 3:13-15 ABA (Bybel vir almal)
Dit is seker: Niemand sal slegte dinge doen aan julle as julle baie graag goeie dinge wil doen nie. Nee, julle is gelukkige mense as julle swaarkry omdat julle doen wat die Here wil hê. Maar julle moenie bang wees vir die mense wat julle laat swaarkry nie, en julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet onthou dat Christus heilig is en dat Hy die Here is. Julle weet van die dinge wat sal gebeur, julle is seker daarvan. Wanneer mense vir julle vra om te vertel van daardie dinge, dan moet julle altyd gereed wees om vir elkeen te vertel van die dinge.
1 PETRUS 3:13-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie? Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees
1 PETRUS 3:13-15 AFR83 (Afrikaans 1983)
Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as 'n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.
1 PETRUS 3:13-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef.
1 PETRUS 3:13-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van wat goed is? Maar as julle ly ter wille van die geregtigheid, gelukkig is julle; Maar heilig die Here God in julle harte, en wees altyd gereed om met sagmoedigheid en vrees antwoord te gee aan elkeen wat van julle redes vra vir die hoop wat in julle is.
1 PETRUS 3:12-15 DB (Die Boodskap)
As julle regtig probeer om goed te leef, sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie. Maar as julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is, is julle eintlik gelukkig. Moet net nie vir mense bang word en die kluts kwytraak nie. Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik vir Christus, die Here. As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan.
1 PETRUS 3:13-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen? Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie. Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.