1 PETRUS 3:12-17
1 PETRUS 3:12-17 Bybel vir almal (ABA)
Want die Here kyk na die mense wat reg lewe en Hy sorg vir hulle. Hy luister wanneer hulle roep en vra dat Hy hulle moet help. Maar die Here hou nie van mense wat verkeerde dinge doen nie. Dit is seker: Niemand sal slegte dinge doen aan julle as julle baie graag goeie dinge wil doen nie. Nee, julle is gelukkige mense as julle swaarkry omdat julle doen wat die Here wil hê. Maar julle moenie bang wees vir die mense wat julle laat swaarkry nie, en julle moenie bekommerd wees nie. Julle moet onthou dat Christus heilig is en dat Hy die Here is. Julle weet van die dinge wat sal gebeur, julle is seker daarvan. Wanneer mense vir julle vra om te vertel van daardie dinge, dan moet julle altyd gereed wees om vir elkeen te vertel van die dinge. Maar julle moet nederig wees wanneer julle dit vertel en julle moet vir God respekteer. Daar is mense wat vir julle beledig, want julle doen goeie dinge omdat julle in Christus glo. Julle moet goed onthou wat is reg en wat is verkeerd, sodat die mense wat vir julle beledig, self skaam sal word. Want as God wil hê dat julle moet swaarkry, dan is dit beter dat julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, beter as dat julle swaarkry omdat julle slegte dinge doen.
1 PETRUS 3:12-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners. En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie? Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; met behoud van 'n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster. Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen.
1 PETRUS 3:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.” Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as 'n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.
1 PETRUS 3:12-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.” Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met 'n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen.
1 PETRUS 3:12-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die oë van die Here is oor die regverdiges, en sy ore is oop tot hulle gebede; maar die aangesig van die Here is teen die wat kwaad doen. En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van wat goed is? Maar as julle ly ter wille van die geregtigheid, gelukkig is julle; Maar heilig die Here God in julle harte, en wees altyd gereed om met sagmoedigheid en vrees antwoord te gee aan elkeen wat van julle redes vra vir die hoop wat in julle is. Met 'n goeie gewete; sodat, terwyl hulle van julle kwaad praat, soos van kwaaddoeners, hulle hulle mag beskaam wat julle goeie wandel in Christus valslik beskuldig. Want dit is beter, as die wil van God so is, dat julle ly omdat julle goed doen, as omdat julle kwaad doen.
1 PETRUS 3:12-17 Die Boodskap (DB)
As julle regtig probeer om goed te leef, sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie. Maar as julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is, is julle eintlik gelukkig. Moet net nie vir mense bang word en die kluts kwytraak nie. Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik vir Christus, die Here. As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan. Doen dit mooi, met eerbied vir God, sonder om windmakerig te wees. Sorg dat julle altyd doen wat julle weet reg is. Dit sal die mense wat so lelik van julle praat omdat julle Christelik optree, belaglik maak, juis omdat hulle julle probeer swartsmeer. As God dit toelaat dat ongelowige mense julle sleg behandel, is dit darem baie beter dat hulle dit doen omdat julle goed en reg optree, soos Christene behoort op te tree, eerder as dat hulle julle so behandel omdat julle julle sleg gedra.
1 PETRUS 3:12-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Here sorg vir dié wat reg doen, en Hy luister na hulle gebede. Maar die Here is teen dié wat kwaad doen.” Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen? Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie. Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer. Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly. Wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort. Hou in gedagte: As God beskik dat julle moet ly omdat julle goeddoen, is dit beter as om te ly omdat julle kwaad doen.