PSALMS 69:1-18

PSALMS 69:1-18 AFR83

Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. Van Dawid. Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het. Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep, selfs my oë het ingegee soos ek vir my God gewag het. Dié wat my sonder rede haat, is meer as die hare op my kop. Dié wat my vir altyd wil stilmaak, is sterk. My vyande dwing my met vals beskuldigings om af te gee wat ek nie geroof het nie. U weet hoe sondig ek is, o God, my verkeerde dade kan ek tog nie vir U wegsteek nie. Here, almagtige God, moenie dat dié wat op U vertrou, deur my toedoen teleurgestel word nie. God van Israel, moenie dat dié wat by U hulp soek, deur my toedoen beskaam word nie. Omdat ek op U vertrou, word ek beledig en verkleineer. Ek het vreemd geword vir my broers, my familie wil my nie meer ken nie. Omdat ek u huis liefhet, moet ek ly; die beledigings teen U het ook vir my getref. Ek het gevas en gehuil en daarvoor net beledigings gekry. Ek het rouklere aangetrek, maar hulle het met my gespot. Die leeglêers in die stadspoort maak praatjies oor my, en dronklappe maak liedjies oor my. My gebed is tot U gerig, Here, antwoord my tog gou, Here, antwoord my in u groot liefde, o God; u hulp staan vas. Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie, laat my wegkom van my vyande af, weg uit die diep waters. Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie. Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid! Moet tog nie u dienaar alleen laat nie! Ek is in groot gevaar, antwoord my tog gou!

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 69:1-18

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid