PSALMS 24:1-10

PSALMS 24:1-10 AFR83

'n Psalm van Dawid. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here, want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê en dit stewig gevestig in die waters. Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie. So iemand sal van die Here seën ontvang, en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied. Die mense wat na sy wil vra en Hom dien, is die geslag van Jakob. Sela Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure, want die magtige Koning wil ingaan! Wie is hierdie magtige Koning? Die Here, sterk en geweldig, die Here, oorwinnaar in elke stryd. Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure, want die magtige Koning wil ingaan! Wie is Hy, hierdie magtige Koning? Die Here, die Almagtige, Hy is die magtige Koning. Sela

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid