PSALMS 107:1-43

PSALMS 107:1-43 AFR83

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide. Party was verdwaal in die woestyn, in 'n barre wêreld, en kon die pad na 'n bewoonde stad nie kry nie. Hulle was honger en dors, hulle was uitgeput, maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp en Hy het hulle gered uit hulle ellende. Hy het hulle op die regte pad gebring en by 'n bewoonde stad laat uitkom. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. Hy het die dors geles van dié wat versmag het, Hy het die goeie in oorvloed gegee aan dié wat honger gely het. Party het in die donker gesit, in diep duisternis, hulle was gevangenes, in ellende en in boeie, want hulle het hulle verset teen die bevele van God, hulle het die leiding van die Allerhoogste in die wind geslaan. Hy het hulle laat knak onder swaarkry, hulle het inmekaar gesak, en niemand het gehelp nie. Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis, laat uitkom, Hy het hulle boeie stukkend gebreek. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen, want Hy het koperdeure oopgebreek, ystergrendels stukkend geslaan. Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. Alle kos het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai, maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. Hy het hulle met 'n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig. Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. Op sy bevel het 'n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie. Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar. Die seevaarders het hulle verheug oor die kalmte. God het hulle veilig gelei na die hawe waar hulle wou kom. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering, Hom prys in die byeenkoms van die leiers. Hy verander waterryke gebied in woestyn, fonteinwêreld in dorsland, Hy maak vrugbare grond brak oor die slegte dade van dié wat daar woon. Hy verander woestyngebied in rietvlei, dor land in fonteinwêreld en laat honger mense hulle daar vestig dat hulle stede kan stig om in te woon. Hulle bewerk lande en plant wingerde, en dié lewer hulle oeste. Hy seën hulle en hulle word vinnig meer, Hy laat hulle vee nie minder word nie. En as die mense minder word en wegkwyn onder die druk van teëspoed en moeilikheid, dan is dit die magtiges wat Hy tref met vernedering en wat Hy laat ronddwaal in 'n wilde wêreld sonder pad. Hy beskerm die armes teen verdrukking en maak hulle nakomelinge so talryk soos kleinvee. As die opregtes dit sien, is hulle bly: alle onreg het tot 'n einde gekom. Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid