SPREUKE 25:1-14

SPREUKE 25:1-14 AFR83

Die volgende is ook spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit opgeteken. Die eer van God lê in wat Hy verborge hou; konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring. Soos die hoogte van die hemelruim en die diepte van die aardbodem, so kan konings se gedagtes ook nie gepeil word nie. As jy die slak uit silwer haal, kan die smid iets van die silwer maak. As jy die goddeloses by die koning wegvat, kan hy regverdig bly regeer. Moet jou nie vernaam aanstel by die koning en op die plek vir hoë mense gaan staan nie. Dit is beter dat hy vir jou sê: “Kom op hiernatoe!” as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense. As jy iets gesien het, moenie te haastig teen jou buurman 'n klag indien nie; wat sal jy agterna doen as hy jou belaglik maak? As jy 'n saak teen jou buurman het, moenie sê wat iemand jou vertroulik meegedeel het nie: dit kan by hom uitkom, en hy kan jou tot 'n leuenaar maak, en dan kry jy vir goed 'n slegte naam. Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. 'n Goue ring, goue juwele, so is die wyse vermaning vir wie wil luister. Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word, so is 'n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het; hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed. Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor SPREUKE 25:1-14

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid