SPREUKE 25:1-14
SPREUKE 25:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ook hierdie spreuke is van Salomo; die manne van Hiskia, die koning van Juda, het dit oorgelewer. Dit is tot die eer van God om 'n saak te verberg; en dit is tot die eer van konings om 'n saak te deurvors. Soos die hoogte van die hemel en die diepte van die aarde, is die hart van konings ondeurgrondelik. Verwyder die metaalskuim uit silwer, dan kom daar reeds 'n kruik uit vir die silwersmid. Verwyder 'n goddelose voor die koning, dan is sy troon reeds in geregtigheid gevestig. Moenie grootpraat voor die koning, en moenie gaan staan op die plek van grotes nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word, “Kom op hierheen!” as dat jy verneder word voor 'n vooraanstaande. Wat jou oë gesien het, moet jy nie haastig voor die gereg bring nie; wat sal jy uiteindelik doen as jou medemens jou verneder? Voer jou regstryd teen jou medemens, maar iemand anders se geheim moet jy nie openbaar nie; anders sal hy wat dit hoor, jou in die skande steek, en die skinderstories oor jou nie ophou nie. Goue appels in silwermonterings, so is 'n woord uitgespreek op die gepaste tyd. 'n Goue ring en 'n sieraad van fyngoud, so is 'n wyse teregwyser vir die oor wat luister. Soos die afkoeling deur sneeu op 'n oesdag is 'n betroubare boodskapper vir die een wat hom gestuur het; hy verkwik die siel van sy heer. Stapelwolke en wind sonder enige reën, so is 'n man wat spog oor 'n geskenk waaroor hy lieg.
SPREUKE 25:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier is nog spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit versamel. Dit is God se reg om iets geheim te hou. Dit is konings se voorreg om uit te vind wat iets beteken. So min soos iemand die hoogte van die lug of die diepte van die aarde kan bepaal, net so min kan iemand peil wat aangaan in die gedagtes van konings. Wanneer jy die onsuiwerheid uit silwer haal, kan die smid iets van die silwer maak. As jy die goddeloses by die koning wegvat, kan hy regverdig bly regeer. Moenie jou vernaam hou voor die koning, en moenie gaan staan op die plek vir belangrike mense nie. Dis beter wanneer vir jou gesê word: “Kom staan asseblief hier!” as dat jy plek moet maak vir iemand belangriker as jy. As jy iets opgemerk het, moet jy nie te haastig wees om ’n saak teen iemand anders te maak nie. Wat sal jy agterna doen as jou buurman jou belaglik maak? Bespreek eers die saak met die ander persoon. Moenie te koop loop met wat iemand vertroulik vir jou gesê het nie. Jy kan dan beskuldig word dat jy skinder. Dan het jy vir altyd ’n slegte naam. Woorde op die regte tyd gesê, is soos goue appels in ’n silwer houer. Soos ’n goue ring by goue juwele, so is die wyse vermaning by die oor wat bereid is om daarna te luister. Vir die een wat hom stuur, is ’n betroubare boodskapper net so verkwikkend soos sneeu in die somerhitte van die oes. Hy gee vir sy werkgewer nuwe moed. Iemand wat spog oor ’n geskenk wat hy nooit gegee het nie, is soos wolke en wind wat geen reën bring nie.
SPREUKE 25:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Die volgende spreuke is ook Salomo-spreuke. Koning Hiskia van Juda se manne het hierdie spreuke bymekaargemaak. Mense respekteer en dien vir God, maar hulle weet nie alles van Hom nie. Mense respekteer 'n koning wanneer die koning probeer om alles te weet. Niemand weet hoe hoog die hemel is en hoe diep die aarde is nie, en niemand weet wat die koning alles dink nie. Wanneer jy die vuil stukkies en die skuim uit gesmelte silwer haal, dan kan 'n silwersmid iets maak van die silwer. Wanneer jy die mense wat verkeerd doen, wegvat van die koning, dan kan die koning regverdig regeer. Jy moenie probeer wys jy is belangrik wanneer jy by die koning is nie, jy moenie gaan staan waar die belangrike mense staan nie. Want dit is beter as iemand vir jou sê: “Kom op hiernatoe,” beter as dat hy vir jou sê jy moet jou plek vir 'n belangrike persoon gee. Wanneer jy by jou naaste iets gesien het wat verkeerd is, dan moet jy dit nie dadelik in die hof gaan vertel nie. Wat sal jy doen wanneer jou naaste bewys dat jy verkeerd is? Wanneer jy jou naaste wil beskuldig, dan moet jy nie vertel wat iemand anders vir jou gesê het toe julle alleen was nie. As jy dit doen, en jou naaste hoor dit, dan kan hy miskien sê jy praat nie die waarheid nie, en almal sal onthou wat jy gedoen het. Wanneer iemand die regte ding sê op die regte tyd, dan is dit soos goue appels wat iemand op silwer vasgesit het. Wanneer iemand wat wysheid het, vir jou sê hoe jy moet lewe, dan is dit soos 'n goue ring, soos juwele van goud. Wanneer iemand 'n slaaf gestuur het en die slaaf het die boodskap reg gebring, dan is dit soos wanneer dit warm was en sneeu het dit lekker koel gemaak. Dit laat die slaaf se eienaar goed voel. Wanneer iemand spog oor 'n present wat hy nie gee nie, dan is dit soos wanneer daar wolke is en die wind waai, maar daar is nie reën nie.
SPREUKE 25:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIT is ook spreuke van Salomo, wat die manne van Hiskía, die koning van Juda, versamel het. Dit is die eer van God om 'n saak te verberg, maar die eer van konings om 'n saak na te speur. Die hoogte van die hemele en die diepte van die aarde en die hart van die konings is ondeurgrondelik. Verwyder jy die skuim uit die silwer, dan sal daar vir die silwersmid 'n voorwerp uitkom; verwyder die goddelose voor die koning weg, dan sal sy troon deur geregtigheid bevestig word. Pronk nie voor die koning nie, en staan nie op die plek van die grotes nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word: Kom op hierheen! — as dat jy verneder word voor 'n edele wat jou oë gesien het. Gaan nie haastig uit om te twis nie; anders, wat sal jy ten slotte doen as jou naaste jou in die skande steek? Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar 'n ander se geheim nie, sodat een wat dit hoor, jou nie beskimp en jou slegte gerug nie ophou nie. Goue appels op versierde silwerborde, so is 'n woord op sy tyd gespreek. 'n Wyse bestraffer by 'n oor wat luister, is 'n goue ring en 'n goue sieraad. Soos die verkoeling van sneeu op 'n oesdag, is 'n betroubare boodskapper vir sy senders; want hy verkwik die siel van sy heer. 'n Man wat hom beroem op 'n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie.
SPREUKE 25:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die volgende is ook spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit opgeteken. Die eer van God lê in wat Hy verborge hou; konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring. Soos die hoogte van die hemelruim en die diepte van die aardbodem, so kan konings se gedagtes ook nie gepeil word nie. As jy die slak uit silwer haal, kan die smid iets van die silwer maak. As jy die goddeloses by die koning wegvat, kan hy regverdig bly regeer. Moet jou nie vernaam aanstel by die koning en op die plek vir hoë mense gaan staan nie. Dit is beter dat hy vir jou sê: “Kom op hiernatoe!” as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense. As jy iets gesien het, moenie te haastig teen jou buurman 'n klag indien nie; wat sal jy agterna doen as hy jou belaglik maak? As jy 'n saak teen jou buurman het, moenie sê wat iemand jou vertroulik meegedeel het nie: dit kan by hom uitkom, en hy kan jou tot 'n leuenaar maak, en dan kry jy vir goed 'n slegte naam. Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. 'n Goue ring, goue juwele, so is die wyse vermaning vir wie wil luister. Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word, so is 'n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het; hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed. Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie.
SPREUKE 25:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ook hierdie spreuke is van Salomo; die manne van Hiskia, die koning van Juda, het dit oorgelewer. Dit is tot die eer van God om 'n saak te verberg; en dit is tot die eer van konings om 'n saak te deurvors. Soos die hoogte van die hemel en die diepte van die aarde, is die hart van konings ondeurgrondelik. Verwyder die metaalskuim uit silwer, dan kom daar reeds 'n kruik uit vir die silwersmid. Verwyder 'n goddelose voor die koning, dan is sy troon reeds in geregtigheid gevestig. Moenie grootpraat voor die koning, en moenie gaan staan op die plek van grotes nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word, “Kom op hierheen!” as dat jy verneder word voor 'n vooraanstaande. Wat jou oë gesien het, moet jy nie haastig voor die gereg bring nie; wat sal jy uiteindelik doen as jou medemens jou verneder? Voer jou regstryd teen jou medemens, maar iemand anders se geheim moet jy nie openbaar nie; anders sal hy wat dit hoor, jou in die skande steek, en die skinderstories oor jou nie ophou nie. Goue appels in silwermonterings, so is 'n woord uitgespreek op die gepaste tyd. 'n Goue ring en 'n sieraad van fyngoud, so is 'n wyse teregwyser vir die oor wat luister. Soos die afkoeling deur sneeu op 'n oesdag is 'n betroubare boodskapper vir die een wat hom gestuur het; hy verkwik die siel van sy heer. Stapelwolke en wind sonder enige reën, so is 'n man wat spog oor 'n geskenk waaroor hy lieg.
SPREUKE 25:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit is ook spreuke van Salomo wat die manne van Hiskia, die koning van Juda, oorgeskryf het. Dit is die eer van God om iets te verberg, maar die eer van konings is om 'n saak te ondersoek. Die hemel vir hoogte en die aarde vir diepte, en die hart van konings is ondeurgrondelik. Neem die skuim van die silwer weg, en daar sal 'n voorwerp uitkom vir die fyner. Neem die goddelose weg voor die koning, en sy troon sal bevestig word in geregtigheid. Stel jou nie voor die koning uit nie, en staan nie in die plek van groot manne nie. Want dit is beter dat vir jou gesê word: Kom op hierheen; as dat jy verneder moet word voor die vors wat jou oë gesien het. Gaan nie haastig uit om te twis nie, sodat jy nie weet wat om aan die einde daarvan te doen as jou naaste jou beskaamd gemaak het nie. Bespreek jou saak met jou naaste self; en ontdek geen geheim vir 'n ander nie: sodat hy wat dit hoor, jou nie beskaamd maak en jou smaad nie afwyk nie. 'n Woord wat reg gespreek word, is soos goue appels in silwerprentjies. Soos 'n goue oorring en 'n sieraad van fyn goud, so is 'n wyse bestraf op 'n gehoorsame oor. Soos die koue van sneeu in die oestyd, so is 'n getroue boodskapper vir die wat Hom stuur, want Hy verkwik die siel van sy HERE. Wie hom op 'n valse gawe roem, is soos wolke en wind sonder reën.
SPREUKE 25:1-14 Die Boodskap (DB)
Hiskia, ’n koning van Juda, het ook die volgende spreuke bymekaargemaak. Hy het dit spesiaal vir ons laat neerskryf. Die Here is baie groot. ’n Mens verstaan nie alles wat Hy doen nie. ’n Mens kan alles ondersoek en bestudeer. Baie dinge bly vir hom ’n geslote boek. Net so min as wat ons weet wat hoog bo in die hemelruim gebeur of wat in die dieptes van die aarde aangaan, net so min kan ons die gedagtes van regeerders peil. Voordat ’n ambagsman ’n mooi silwervoorwerp kan maak, moet alle onsuiwerheid eers weggebrand word. Voordat ’n gemeenskap werklik gelukkig kan wees, moet alle korrupsie en verkeerde praktyke eers met wortel en tak uitgeroei word. Ken jou plek in die lewe. Moenie jou inwurm waar belangrike mense staan en gesels nie. Moenie sommer by hulle gaan sit nie. Hulle sal jou wegjaag en jou plek vir iemand anders gee. Laat hulle jou liewer na die goeie plekke toe nooi. Moenie alles wat ander doen, haastig loop en uitblaker nie. Onthou, jy het ook vuil wasgoed. Ander kan jou ook verneder. As iets tussen jou en iemand anders skeefloop, gaan praat dit mooi uit. Moet nooit iemand se geheime in die openbaar uitlap nie. Hy weet dalk ook iets van jou. En as hy daaroor praat, kan jy in ’n groot verleentheid beland. Soos die allermooiste musiek, so is ’n woord wat op die regte tyd gesê word. Twee dinge hoort bymekaar soos ’n pot en sy deksel: ’n wyse wat praat en iemand wat aandagtig luister. Soos ’n beker koue water op ’n warm somersdag, so is die woorde van iemand wat jy werklik vertrou. Dit gee jou sommer nuwe moed vir die lewe. Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ’n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie.