NUMERI 30

30
Voorskrifte oor geloftes
1Moses het vir die leiers van die Israelitiese stamme gesê: “Dit is wat die Here beveel het: 2As iemand aan die Here 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het.
3“As 'n jong vrou wat nog in haar ouerhuis is, 'n gelofte aan die Here doen of 'n verpligting op haar neem, 4en haar pa hoor van die gelofte of die verpligting en hy maak nie daarteen beswaar nie, bly al die geloftes of die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. 5Maar as haar pa dit afkeur wanneer hy daarvan hoor, is die geloftes of die verpligtinge wat sy op haar geneem het, nie van krag nie. Die Here sal dit nie teen haar hou nie omdat haar pa dit afgekeur het.
6“As 'n vrou trou nadat sy aan die Here geloftes gedoen het, of onnadenkend 'n verpligting op haar geneem het, 7en haar man hoor daarvan en maak die dag waarop hy daarvan hoor, geen beswaar nie, bly die geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. 8Maar as haar man dit afkeur wanneer hy daarvan hoor, verklaar hy die gelofte of die verpligtinge wat sy onnadenkend op haar geneem het, nietig, en sal die Here dit nie teen haar hou nie.
9“Enige gelofte wat 'n weduwee of 'n geskeide vrou gedoen het of enige verpligting wat sy op haar geneem het, bly van krag.
10“As 'n getroude vrou 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op haar neem, 11en haar man hoor daarvan en maak nie beswaar nie en keur dit nie af nie, bly al haar geloftes en die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. 12Maar as haar man die geloftes uitdruklik nietig verklaar wanneer hy daarvan hoor, is alles wat sy gesê het, haar geloftes of verpligtinge, nie van krag nie, en sal die Here dit nie teen haar hou nie. 13Elke gelofte of eed waarmee sy haarself wil kasty, kan deur haar man van krag gemaak of nietig verklaar word. 14As haar man nie voor die volgende dag beswaar maak nie, maak hy al haar geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. Hy het dit dan van krag gemaak deurdat hy geen beswaar gemaak het toe hy daarvan gehoor het nie. 15As hy egter die geloftes of verpligtinge eers lank nadat hy daarvan gehoor het, nietig verklaar, dra hy die skuld daarvoor, nie sy nie.”
16Dit is die voorskrifte wat die Here aan Moses gegee het oor die verhouding tussen 'n man en sy vrou, en tussen 'n pa en sy ongetroude dogter wat nog in haar ouerhuis is.

Tans Gekies:

NUMERI 30: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid