NUMERI 29

29
Offers by die nuwejaarsfees
1“Op die eerste van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan mag julle geen gewone werk doen nie. Dit is 'n dag vol feesvreugde vir julle. 2Julle moet as brandoffer, wat deur die Here aanvaar word, 'n jong bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek. 3Saam met die bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram, 4en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram. 5Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring om vir julle versoening te doen. 6Julle moet hierdie offers bring afgesien van die maandelikse en die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby. Dit is 'n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”
Offers op die groot versoendag
7“Op die tiende van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan moet julle julle verootmoedig en mag julle geen werk doen nie. 8Julle moet as 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar word, 'n jong bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek. 9Saam met die bul moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met die ram drie kilogram, 10en saam met elk van die sewe lammers een en 'n half kilogram. 11Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die sondeoffer vir julle versoening en die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.”
Offers by die huttefees
12“Op die vyftiende van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan mag julle geen gewone werk doen nie. Sewe dae lank moet julle die huttefees vier tot eer van die Here. 13Julle moet as brandoffer, as vuuroffer wat deur die Here aanvaar word, dertien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek. 14Saam met elk van die dertien bulle moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elk van die twee ramme drie kilogram, 15en saam met elk van die veertien lammers een en 'n half kilogram. 16Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.
17“Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 18en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 19Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.
20“Op die derde dag moet julle elf bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 21en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 22Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring, afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.
23“Op die vierde dag moet julle tien bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 24en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 25Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.
26“Op die vyfde dag moet julle nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 27en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 28Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.
29“Op die sesde dag moet julle ag bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 30en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 31Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.
32“Op die sewende dag moet julle sewe bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 33en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 34Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.
35“Die agste dag moet julle ook as 'n feesdag deurbring; dan mag julle geen gewone werk doen nie. 36Julle moet as brandoffer wat deur die Here aanvaar word, 'n bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 37en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 38Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.
39“Dit is dan die brandoffers, die graanoffers, die drankoffers en die maaltydoffers wat julle in julle feestye vir die Here moet bring, julle gelofteoffers en vrywillige offers.”
40Dit alles het Moses vir die Israeliete gesê soos die Here hom dit beveel het.

Tans Gekies:

NUMERI 29: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid