NUMERI 14:20-45

NUMERI 14:20-45 AFR83

Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het. Nogtans, so seker as Ek leef en die hele aarde vol sal word van my magtige teenwoordigheid, nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, sal die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie. Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit. “Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte. Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.” Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset. Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het. In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het. Nie een van julle sal die land betree wat Ek met 'n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun. En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle krygsgevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry. Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê. Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê. Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’ Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.” Die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele volk teen Moses in verset laat kom het deur die slegte gerug oor die land te versprei, almal wat vir die slegte gerug oor die land verantwoordelik was, het gesterwe deur 'n plaag wat deur die Here gestuur is. Van die manne wat die land gaan verken het, het net Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne bly lewe. Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil. Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.” Maar Moses het gesê: “Waarom oortree julle die bevel van die Here? Julle sal nie die land verower nie. Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word, want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.” Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie. Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie Bergland woon, het afgekom en hulle verslaan en uitmekaar gejaag tot by Gorma.

Gratis leesplanne en oordenkings oor NUMERI 14:20-45

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid