NUMERI 14
AFR83
14
'n Opstand en sy gevolge
(Vgl. Deut. 1:26-46)
1Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. 2Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! 3Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?”
4Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!”
5Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. 6Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, 7en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land. 8As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. 9Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”
10Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi.
Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword. 11Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het? 12Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou 'n volk maak, groter en sterker as hulle!”
13-14Maar Moses het vir die Here gesê: “Die Egiptenaars sal dit hoor en dit vir die inwoners van hierdie land vertel. Dit is tog U wat hierdie volk deur u mag uit Egipte laat wegtrek het, en die inwoners van hierdie land het reeds gehoor dat U, Here, onder hierdie volk is, dat U duidelik waarneembaar verskyn het, dat u wolk oor hulle is, en dat U bedags in 'n wolkkolom en snags in 'n vuurkolom voor hulle uit gaan. 15As U hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u dade gehoor het, sê: 16‘Die Here was nie in staat om hierdie volk in te bring in die land wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.’
17“Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: 18‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’ 19Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!”
20Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het. 21Nogtans, so seker as Ek leef en die hele aarde vol sal word van my magtige teenwoordigheid, 22nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, 23sal die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie. 24Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.
25“Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte. Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.”
26Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 27“Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset. 28Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het. 29In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het. 30Nie een van julle sal die land betree wat Ek met 'n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun. 31En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle krygsgevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry. 32Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê. 33Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê. 34Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’ 35Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.”
36Die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele volk teen Moses in verset laat kom het deur die slegte gerug oor die land te versprei, 37almal wat vir die slegte gerug oor die land verantwoordelik was, het gesterwe deur 'n plaag wat deur die Here gestuur is. 38Van die manne wat die land gaan verken het, het net Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne bly lewe.
39Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil. 40Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.”
41Maar Moses het gesê: “Waarom oortree julle die bevel van die Here? Julle sal nie die land verower nie. 42Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word, 43want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.”
44Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie. 45Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie Bergland woon, het afgekom en hulle verslaan en uitmekaar gejaag tot by Gorma.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Vind meer uit oorAfrikaans 1983