JOB 42:7-17

JOB 42:7-17 AFR83

Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as 'n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.” Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom 'n stuk silwer en 'n goue ring gegee. Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en 'n duisend donkies gekry, en ook sewe seuns en drie dogters. Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. Job het toe gesterf. Hy was oud en het 'n vol lewe gehad.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOB 42:7-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid