JOHANNES 8:12-20

JOHANNES 8:12-20 AFR83

Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.” Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOHANNES 8:12-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid