RIGTERS 6:1-12

RIGTERS 6:1-12 AFR83

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die mag van die Midianiete. Hulle het die Israeliete hard behandel, en daarom het hulle langs die bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly. Wanneer die Israeliete iets gesaai het, het die Midianiete teen hulle opgetrek saam met die Amalekiete en ander mense uit die ooste. Dan slaan die Midianiete kamp op en vernietig die opbrengs van die land selfs tot by Gasa se wêreld. Hulle het nie 'n dier in Israel lewend agtergelaat nie, nie 'n skaap of 'n bees of 'n donkie nie. Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop. Hulle het die Israeliete arm laat word, en toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp. Toe hulle tot die Here roep om hulp teen die Midianiete, het Hy 'n man gestuur om onder die Israeliete as profeet op te tree, en hy het vir hulle gesê: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte laat wegtrek en Ek het julle uit die plek van slawerny bevry. Ek het julle gered uit die mag van Egipte en van almal deur wie julle verdruk is. Ek het hulle laat plek maak vir julle en Ek het hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.” Daarna het 'n Engel van die Here gaan sit onder die groot boom in Ofra wat behoort het aan Joas die Abiësriet. Sy seun Gideon was besig om koring uit te slaan in 'n parskuip waar hy weggekruip het vir die Midianiete. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor RIGTERS 6:1-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid