JESAJA 30:1-17

JESAJA 30:1-17 AFR83

Ellende wag vir die rebelse mense wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie, sê die Here, dié wat verdrae sluit wat nie volgens my wil is nie en so sonde op sonde stapel. Hulle gaan af na Egipte toe sonder om My te raadpleeg, hulle gaan soek steun by die mag van die farao, hulle wil beskerming by Egipte hê, maar hulle sal teleurgestel staan met die farao se mag en al, die beskerming deur Egipte sal hulle niks baat nie. Die leiers van Juda is al in Soan, sy boodskappers het al in Ganes aangekom, maar hulle sal almal teleurgestel word deur dié volk wat nie kan help nie, wat nie hulp en bystand kan verleen nie maar wat skande en vernedering bring. 'n Uitspraak van die Here oor die diere in die Suidland: Die gesante van Juda bring hulle ryk geskenke, hulle skatte, op die rûe van hulle donkies en hulle kamele; hulle bring dit deur 'n gebied vol gevaar en angs waar leeus en slange boer en waar drake rondvlieg, hulle bring dit na 'n volk toe wat nie kan help nie. Egipte is niks, sy hulp beteken niks! Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie. Gaan skryf dit nou op waar Juda by is, teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig in die dae wat kom. Hulle is 'n weerbarstige volk, hulle is mense wat lieg en wat weier om te luister na wat die Here wil. Hulle sê vir die sieners: “Moenie gesigte sien nie!” Hulle sê vir dié wat gesigte sien: “Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie, vlei ons liewer, sien liewer dinge wat ons mislei! Gee pad voor ons, moenie voor ons kom staan nie; laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn!” So sê die Heilige van Israel: Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun. Daarom word hierdie sonde vir julle 'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort en in stukke spat soos 'n groot kleipot wat meedoënloos fyn geslaan word sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap of water uit 'n opgaarput te skep nie. So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JESAJA 30:1-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid