GENESIS 27:34-41

GENESIS 27:34-41 AFR83

Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: “Pa, seën my tog ook!” Maar Isak sê vir hom: “Jou broer het my kom bedrieg en toe het hy jou seën gevat.” Esau het geantwoord: “Hy word tereg Jakob genoem. Hy het my nou al twee keer bedrieg : hy het my reg as eersgeborene gevat en nou het hy my seën gevat.” Toe vra Esau: “Het Pa nie nog 'n seën vir my ook nie?” Isak het vir hom gesê: “Ek het hom alreeds aangestel om oor jou te heers en ek het sy hele familie vir hom as onderdane gegee. Ek het hom van koring en wyn voorsien. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie, my seun.” Esau het toe vir sy pa gesê: “Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!” Toe Esau daarna begin huil, sê sy pa Isak vir hom: “Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees, en ook ver van die dou uit die hemel af. Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien, maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.” Esau het vir Jakob gehaat oor die seën wat sy pa aan hom gegee het, en Esau het by homself gesê: “My pa se dood is nie meer ver nie, dan maak ek my broer Jakob dood.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor GENESIS 27:34-41

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid