EKSODUS 33:12-23

EKSODUS 33:12-23 AFR83

Op 'n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’ As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.” Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!” Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor EKSODUS 33:12-23

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid