DEUTERONOMIUM 22:13-30

DEUTERONOMIUM 22:13-30 AFR83

“Wanneer 'n man 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy 'n afkeer kry van haar nadat hy met haar gemeenskap gehad het en haar van slegte gedrag beskuldig en haar 'n slegte naam laat kry deurdat hy sê: ‘Ek het hierdie vrou getrou en met haar gemeenskap gehad, maar ek het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie.’ Dan moet haar pa en haar ma die tekens dat sy 'n maagd was, na die leiers van die stad toe bring in die stadspoort en dan moet haar pa vir hulle sê: ‘Ek het my dogter met hierdie man laat trou en nou haat hy haar. Hy beskuldig haar van slegte gedrag deurdat hy sê hy het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie. Maar hier is die tekens dat my dogter 'n maagd was.’ Dan moet haar pa haar nagklere vir die leiers van die stad wys. Hulle moet die man dan met 'n sweep slaan en hom met elf honderd en veertig gram silwer beboet. Hulle moet die geld vir haar pa gee omdat die man haar, 'n maagd van Israel, 'n slegte naam laat kry het. Sy sal ook die man se vrou bly. Hy mag nooit van haar skei nie. Maar as die man die waarheid gepraat het, en daar nie enige tekens dat sy 'n maagd was by haar gevind is nie, moet hulle haar by die deur van haar pa se huis laat uitkom en die mans van die stad moet haar daar met klippe doodgooi. Sy moet sterf omdat sy 'n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met 'n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei. “Wanneer 'n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met 'n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word. So moet jy hierdie soort kwaad tussen die Israeliete uitroei. “Wanneer 'n man 'n verloofde meisie in die stad raakloop en met haar gemeenskap het, moet jy altwee na die stadspoort toe uitbring en met klippe doodgooi. Hulle moet sterf: die meisie omdat sy nie in die stad om hulp geroep het nie en die man omdat hy die verloofde van sy volksgenoot onteer het. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei. Maar as 'n man 'n verloofde meisie in die veld raakloop en haar oorweldig en met haar gemeenskap het, moet net die man sterf. Die meisie moet ongestraf bly. Sy het niks gedoen wat die dood verdien nie, want in haar geval is dit soos wanneer 'n man iemand gryp en vermoor. Die verloofde meisie is in die veld raakgeloop, en sy het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie. “Wanneer 'n man 'n meisie wat nie verloof is nie, raakloop en haar gryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, vyf honderd en sewentig gram silwer aan haar pa gee en met haar trou. Hy het haar onteer en daarom mag hy nooit van haar skei nie. “'n Seun mag nie met sy pa se vrou trou nie. 'n Seun mag nie gemeenskap hê met 'n vrou wat aan sy pa behoort nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid