Deuteronomium 22:13-30

Deuteronomium 22:13-30 AFR20

“ 'n Man neem dalk 'n vrou, gaan by haar in, kry daarna 'n weersin in haar, en beskuldig haar dan vals en gee haar 'n slegte naam deur te sê, ‘Ek het hierdie vrou geneem, maar toe ek met haar omgang gehad het, het ek nie by haar die bewys van maagdelikheid gekry nie.’ Dan moet die vader en moeder van die jong vrou die bewys van haar maagdelikheid vat en dit vir die oudstes van die dorp na die poort bring. Die vader van die jong vrou moet dan vir die oudstes sê, ‘My dogter het ek aan hierdie man as vrou gegee, maar hy het 'n weersin in haar gekry. En kyk, nou is hy die een wat haar vals beskuldig deur te sê: “Ek het nie by jou dogter die bewys van maagdelikheid gekry nie.” Maar hier is die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Dan moet hulle die kledingstuk voor die oudstes van die dorp oopsprei. Die oudstes van daardie dorp moet daardie man vat en hom straf. Hulle moet hom 'n boete van honderd silwerstukke oplê en dit vir die jong vrou se vader gee omdat die man 'n maagd uit Israel 'n slegte naam gegee het. Sy moet sy vrou wees. Hy het nie die reg om van haar te skei nie, so lank as wat hy leef. “ Maar as hierdie beskuldiging waar is, as maagdelikheid nie by die jong vrou gekry is nie, dan moet hulle haar uitbring na die ingang van haar vader se huis en die manne van die dorp moet haar met klippe doodgooi, sodat sy sterf, omdat sy 'n gruweldaad gepleeg het in Israel deur in haar vader se huis te hoereer. Jy moet die kwaad by jou uitroei. “ As 'n man betrap word dat hy met 'n getroude vrou gemeenskap het, moet albei sterf: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het en ook die vrou. Jy moet die kwaad in Israel uitroei. “ As 'n jong vrou, 'n maagd, verloof is aan 'n man en iemand ontmoet haar in die dorp en het met haar gemeenskap, dan moet julle hulle al twee na daardie dorp se poort uitbring en hulle met klippe doodgooi, sodat hulle sterf – die jong vrou omdat sy nie in die dorp uitgeroep het nie en die man omdat hy die vrou van sy naaste verneder het. Jy moet die kwaad by jou uitroei. Maar as die man die jong vrou wat verloof is, in die veld kry en haar gryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, alleen sterf. Aan die jong vrou mag jy nie iets doen nie. Sy het nie 'n sonde begaan wat die dood verdien nie, want in hierdie geval is dit dieselfde as wanneer 'n man sy naaste oorval en die persoon vermoor. Hy het haar immers in die veld gekry; die jong verloofde vrou het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie. “ As 'n man 'n jong vrou, 'n maagd wat nie verloof is nie, in die veld kry en haar vasgryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, moet die man wat met haar gemeenskap het, vir die jong vrou se vader vyftig silwerstukke gee. Sy moet dan sy vrou wees, omdat hy haar verneder het. Hy het nie die reg om van haar te skei nie, so lank as wat hy leef. “'n Man mag nie 'n vrou van sy vader neem nie. Hy mag nie die naaktheid ontbloot wat aan sy vader behoort nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid