AMOS 5:4-15

AMOS 5:4-15 AFR83

So sê die Here vir Israel: Vra na my wil, dan sal julle lewe! Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie. Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan. Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, sal die Here vir Josef soos 'n vuur tref, 'n vuur wat vir Bet-El sal verteer sonder dat iemand dit kan blus. Julle maak van die regspraak 'n bitter saak, julle trap die reg in die grond in. Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is, Hy wat die donker in oggendlig verander en die dag donker nag laat word, Hy wat die water van die see roep en dit oor die aarde uitstort, sy Naam is die Here. Dit is Hy wat die magtige met vernietiging tref, wat vernietiging oor die vestingstad bring. Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe, julle verafsku dié wat die waarheid praat. Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en sal julle nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie. Ek weet hoe baie julle oortredings is, hoe groot julle sondes is, julle wat die vyande is van dié wat reg doen, julle wat julle laat omkoop en nie aan die armes reg laat geskied nie. Dit is daarom dat 'n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is 'n bose tyd. Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe! Dan sal die Here die almagtige God so by julle wees soos julle sê dat Hy is. Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe. Dan sal die Here die almagtige God Hom dalk ontferm oor wat daar van Josef oor is.