AMOS 5:4-15

AMOS 5:4-15 Bybel vir almal (ABA)

Ja, die Here sê vir die mense van Israel: “Julle moet vra wat Ek wil hê julle moet doen, dan sal julle lewe! Julle moenie in die stad Bet-El gaan vra nie, en julle moet ook nie na die stad Gilgal gaan nie. Julle moenie verder gaan na die stad Berseba nie. Die vyande sal die mense van Gilgal vang en na 'n ander land vat en hulle sal Bet-El verwoes.” Vra wat die Here wil hê, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, dan sal Hy 'n vuur na julle toe stuur om die Israeliete te brand. Daar sal niemand in Bet-El wees wat die vuur kan doodmaak nie. Julle doen nie reg aan mense nie, julle laat hulle baie swaar kry. Dit is die Here wat die sterre gemaak het, Orion en die Sewe-ster. Hy laat dit lig word ná die nag, Hy laat dit donker word ná die dag. Dit is Hy wat die wolke uit die see bring en wat dit laat reën op die land. Sy Naam is die Here. Die Here maak sterk mense vinnig dood. Hy laat sterk mure omval. Julle haat 'n man wat in die poort praat teen iemand wat verkeerd gedoen het, julle hou nie van 'n man wat die waarheid praat nie. Julle trap op die arm mens, julle vat sy koring. Daarom sal julle nie woon in die huise wat julle gebou het met die klippe wat julle so mooi gekap het nie. Julle sal nie die wyn drink van die mooi wingerde wat julle geplant het nie. Ek weet hoe baie en hoe groot julle sonde is. Julle is vyande van iemand wat reg doen. Julle vat die geld wanneer mense julle wil betaal om verkeerd te doen. In die poort is julle onregverdig met die arm mense. Dit is hoekom verstandige mense stilbly in hierdie tyd. Dit is 'n slegte tyd. Julle sê die Here is by julle. Maar julle moet probeer om goed te doen, moenie doen wat sleg is nie. Dan sal julle lewe, en dan sal die Here, die God wat oor alles regeer, by julle wees. Julle moet haat wat sleg is en julle moet lief wees vir wat goed is, julle moet in die hof reg doen aan mense. Miskien sal die Here, die God wat oor alles regeer, dan jammer wees vir julle, julle Israeliete wat nog lewe.

AMOS 5:4-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Want so sê die HERE aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie. Soek die HERE, dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos 'n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie. Julle wat die reg in wildeals verander en die geregtigheid teen die grond gooi! Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde — HERE is sy Naam! Hy wat verwoesting laat aanblits oor die sterke, en verwoesting kom oor die vesting! Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het 'n afsku van hom wat in opregtheid spreek. Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom 'n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort. Daarom swyg die verstandige in so 'n tyd, want dit is 'n onheilspellende tyd. Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê. Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef.

AMOS 5:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

So sê die Here vir Israel: Vra na my wil, dan sal julle lewe! Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie. Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan. Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, sal die Here vir Josef soos 'n vuur tref, 'n vuur wat vir Bet-El sal verteer sonder dat iemand dit kan blus. Julle maak van die regspraak 'n bitter saak, julle trap die reg in die grond in. Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is, Hy wat die donker in oggendlig verander en die dag donker nag laat word, Hy wat die water van die see roep en dit oor die aarde uitstort, sy Naam is die Here. Dit is Hy wat die magtige met vernietiging tref, wat vernietiging oor die vestingstad bring. Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe, julle verafsku dié wat die waarheid praat. Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en sal julle nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie. Ek weet hoe baie julle oortredings is, hoe groot julle sondes is, julle wat die vyande is van dié wat reg doen, julle wat julle laat omkoop en nie aan die armes reg laat geskied nie. Dit is daarom dat 'n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is 'n bose tyd. Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe! Dan sal die Here die almagtige God so by julle wees soos julle sê dat Hy is. Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe. Dan sal die Here die almagtige God Hom dalk ontferm oor wat daar van Josef oor is.

AMOS 5:4-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ja, so sê die HERE vir die huis van Israel: “Soek My, dan sal julle leef. Moet Bet-El nie besoek nie; na Gilgal mag julle nie gaan nie en na Berseba die grens nie oorsteek nie. Want Gilgal sal beslis in ballingskap gaan en Bet-El sal 'n nietigheid word.” Soek die HERE, dan sal julle leef – anders vlam Hy op soos 'n vuur in die huis van Josef; die vuur sal verteer en daar is niemand wat dit vir Bet-El kan blus nie – julle wat die reg verander in wildeals, en geregtigheid teen die grond gooi. Hy wat die Sewester en Orion maak, wat stikdonker verander in môre en dag in nag laat verdonker; wat die water van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde – HERE is sy Naam. Dit is Hy wat verwoesting laat losbars oor 'n vesting, ja, verwoesting kom oor 'n versterkte stad. Hulle haat die een wat in die stadspoort teregwys en verafsku hom wat reguit praat. Daarom, omdat julle graanbelasting van armes eis, en 'n heffing op graan van hulle neem, het julle huise van gekapte klip gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; het julle pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Ek weet immers hoe baie julle oortredings en hoe talryk julle sondes is, julle wat vyandig is teenoor regverdiges, wat omkoopgeld vat en behoeftiges in die stadspoort wegwys. Daarom is die verstandige in hierdie tyd stil, want dit is 'n bose tyd. Soek die goeie, nie die slegte nie, sodat julle kan lewe; dan sal die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte, só by julle wees soos wat julle sê. Haat die slegte, wees lief vir die goeie, en vestig die reg in die stadspoort. Miskien sal die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte, dié wat oor is van Josef, genadig wees.

AMOS 5:4-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want so sê die HERE aan die huis van Israel: Soek My, en julle sal lewe. Maar soek Bet-El nie en gaan nie in Gilgal in nie, en trek nie na Berséba oor nie; want Gilgal sal sekerlik in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niet gaan. Soek die HERE, en julle sal lewe; dat hy nie soos 'n vuur in die huis van Josef uitbreek en dit verteer, en daar is niemand om dit in Bet-el te blus nie. Julle wat die oordeel verander in alsem en die geregtigheid op die aarde laat staan, Soek Hom wat die sewe sterre en Orion maak en die doodskaduwee in die môre verander en die dag donker maak met nag, wat die waters van die see roep en dit op die aarde uitgiet: Die HERE is sy naam: wat die geplunderdes versterk teen die sterkes, sodat die geplunders teen die vesting kom. Hulle haat hom wat in die poort bestraf, en hulle het 'n afsku van hom wat opreg spreek. Aangesien julle dan die arme vertrap en julle koringlas van hom wegneem, het julle huise van gekapte klip gebou, maar daarin mag julle nie woon nie; julle het lieflike wingerde geplant, maar wyn daarvan mag julle nie drink nie. Want Ek ken jou menigte oortredinge en jou magtige sondes: hulle verdruk die regverdige, hulle neem omkoopgeld aan, en hulle wend die armes in die poort van hul regterkant af. Daarom sal die verstandiges in dié tyd swyg; want dit is 'n slegte tyd. Soek goed en nie kwaad nie, sodat julle kan lewe; en so sal die HERE, die God van die leërskare, met julle wees soos julle gespreek het. Haat wat sleg is, en wees lief vir die goeie, en bevestig die reg in die poort; miskien sal die HERE, die God van die leërskare, die oorblyfsel van Josef genadig wees.

AMOS 5:4-15 Die Boodskap (DB)

Dit is wat die Here vir Israel sê: “Kom terug na My toe, dan sal julle bly lewe. Moenie My gaan soek by die plek van aanbidding by Bet-El nie. Moenie na die altaar by Gilgal toe gaan nie. Moenie aftrek na Berseba om daar te gaan bid nie. Die pad waarlangs die vyand julle uit julle land sal wegvat, begin by Gilgal. Bet-El is die plek waar ’n ramp julle gaan tref. Soek na die Here self, dat julle kan bly leef. As julle nie by Hom uitkom nie, sal Hy soos ’n vuur wees wat Josef se nageslag gaan wegbrand. Dit sal Israel heeltemal laat verdwyn. By Bet-El sal dit so erg brand dat niks dit sal kan keer nie.” “Julle verdraai die wet en die dinge wat reg is, só dat alles eintlik bitter onregverdigheid word. Julle trap die dinge wat regverdig is, in die grond in weg.” “Hy wat tussen die sterre in die lug die Sewester en die Orion gemaak het, wat donker nag weer lig kan laat word in die oggend, die dag kan omdraai dat dit donker nag kan word, wat die waters van die see in ’n bondel bymekaarmaak in wolke wat reën uitgooi oor die aarde, sy Naam is ‘Die Here’. “Hy kan geweldige sterk mense in ’n oomblik op hulle knieë bring, Hy kan sterk vestingmure in ’n oomblik inmekaar laat stort.” “Julle haat mos mense wat regverdig wil wees. Julle is mos hatig op mense wat die waarheid praat in die hof. Omdat julle die armes onderdruk en hulle afpers, sal julle nooit self bly in die mooi huise wat julle vir julle van klip gebou het nie, en sal julle nooit die wyn drink wat uit die wingerde kom wat julle aangeplant het nie. Ek weet van alles wat julle verkeerd gedoen het. Ek weet van al die baie sondes wat julle doen. Julle vat omkoopgeld. Julle jaag die man weg wat reg is. In die hof kies julle kant teen die arm mense. In hierdie tyd met al sy onregverdige dinge is dit die verstandigste om maar liewer stil te bly.” “Probeer om eerder goed te doen as kwaad. Julle sal dan voorspoedig lewe. Dit sal dan regtig gebeur soos julle gehoop het. Die Here, die God wat baie sterk is, sal by julle bly. Verwerp alles wat lelik is. Slaan julle arms om alles wat goed is en druk dit teen julle vas. Sorg dat die uitsprake in julle hof altyd regverdig is. Miskien sal die Here, die God wat baie sterk is, goed wees vir dié wat nog van Josef se nageslag oorgebly het.”

AMOS 5:4-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verder sê die HERE vir die volk Israel: “Kom terug na My toe, en leef! Moenie afgode raadpleeg in Bet-El nie. Moet ook nie na Gilgal gaan of na Berseba toe nie. Die mense van Gilgal sal in ballingskap gaan. Niks sal oorbly van die mense van Bet-El nie.” Kom terug na die HERE toe en leef! As julle dit nie doen nie, sal Hy soos vuur deur die nageslag van Josef trek. Die vlamme sal Bet-El verteer sonder dat iemand dit blus. Julle verdraai die reg tot onreg, regverdigheid verwerp julle. Hy, die Skepper van die Sewester en Orion, sy Naam is HERE. Hy verander donkernag in môrelig en die dag in nag. Hy roep die water uit die see en giet dit weer oor die aarde. In ’n oogwink oorweldig Hy magtige mense en vernietig Hy vestings. Julle haat eerlike regters. Julle verafsku mense wat die waarheid praat. Julle vertrap die armes en eis ’n deel van hulle graan. Daarom, omdat julle dit doen, sal julle nooit kan woon in die deftige steenhuise wat julle bou nie. Julle het wingerde aangeplant, maar julle sal nooit drink van die wyn wat dit oplewer nie. Ek weet hoeveel oortredings julle het en hoe groot julle sondes is. Julle onderdruk goeie mense deur omkoopgeld te eis. Julle ontneem die armes van hulle reg in die howe. ’n Verstandige mens bly in hierdie tyd eerder stil omdat dit ’n tyd vol onreg is. Doen wat goed is en vlug vir die kwaad, dan sal julle lewe! Dan sal Hy, die HERE God, die Almagtige, by julle wees soos julle gesê het dat Hy is. Julle moet die bose haat en die goeie liefhê. Sorg dat regverdigheid in die howe seëvier. Miskien sal die HERE God, die Almagtige, nog genade hê vir dié wat oorgebly het van Josef se nageslag.