Amos 5:4-15

Amos 5:4-15 AFR20

Ja, so sê die HERE vir die huis van Israel: “Soek My, dan sal julle leef. Moet Bet-El nie besoek nie; na Gilgal mag julle nie gaan nie en na Berseba die grens nie oorsteek nie. Want Gilgal sal beslis in ballingskap gaan en Bet-El sal 'n nietigheid word.” Soek die HERE, dan sal julle leef – anders vlam Hy op soos 'n vuur in die huis van Josef; die vuur sal verteer en daar is niemand wat dit vir Bet-El kan blus nie – julle wat die reg verander in wildeals, en geregtigheid teen die grond gooi. Hy wat die Sewester en Orion maak, wat stikdonker verander in môre en dag in nag laat verdonker; wat die water van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde – HERE is sy Naam. Dit is Hy wat verwoesting laat losbars oor 'n vesting, ja, verwoesting kom oor 'n versterkte stad. Hulle haat die een wat in die stadspoort teregwys en verafsku hom wat reguit praat. Daarom, omdat julle graanbelasting van armes eis, en 'n heffing op graan van hulle neem, het julle huise van gekapte klip gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; het julle pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Ek weet immers hoe baie julle oortredings en hoe talryk julle sondes is, julle wat vyandig is teenoor regverdiges, wat omkoopgeld vat en behoeftiges in die stadspoort wegwys. Daarom is die verstandige in hierdie tyd stil, want dit is 'n bose tyd. Soek die goeie, nie die slegte nie, sodat julle kan lewe; dan sal die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte, só by julle wees soos wat julle sê. Haat die slegte, wees lief vir die goeie, en vestig die reg in die stadspoort. Miskien sal die HERE, die God wat Heerser is oor alle magte, dié wat oor is van Josef, genadig wees.