Psalms 18

18
1’n Psalm van Dawid vir die leier van die orkes. Dawid, wat die Here dien, het die psalm geskryf toe God hom gehelp het. God het hom gered van Saul en die ander mense wat nie van hom gehou het nie
2Ek het U lief, o Here. U maak my sterk.
By die Here is ek veilig, want Hy beskerm my.
3Hy help my as ek in die moeilikheid is, want Hy is sterk. Ek kruip by Hom weg.
Hy is my God, en Hy is reg rondom my om my veilig te hou.
4As my vyande my moeilikheid gee, bid ek tot die Here. Hy help my dan.
Hy verlos my van my vyande.
5Dit het vir my gevoel of die dood my vasgedruk het, ja, asof alle moeilikheid soos golwe oor my slaan.
6Ek was in die poorte van die dood. Ek het in die vangnet van die dood getrap.
7Toe het ek na die Here geroep. Ek het Hom gevra om my asseblief te help ... en my God het my gehoor! Daar waar Hy bly, luister Hy na my as ek roep.
8Die Here het kwaad geword, en toe het die aarde begin bewe.
Dit het gelyk of iemand die berge vat en rondskud.
9Dit was of die vreeslikste vuur losbreek wat alles verbrand. Rook het uit sy neus gekom.
10Dit was of die hemel oopbars toe die Here kom. Hy het op donker stormwolke geloop. 11Ja, asof Hy sweef op die wind, het Hy op ’n magtige hemelwese aangevlieg gekom.
12’n Mens kon die Here nie sien nie, want dit was donker om Hom.
Donker wolke en waters het Hom toegevou.
13Dit was of ’n helder lig voor Hom uitgestraal het.
Voor die glans uit het wolke met hael en weerligstrale getrek.
14Met ’n harde stem het die Here uit die hemel gepraat, hael en weerligstrale het gevlieg.
Ek het die stem van die Allerhoogste gehoor.
15Toe die weerligstrale soos pyle tussen die mense begin slaan, het dit die vyand in alle rigtings laat spaander. Hy het hulle op ’n hoop gejaag.
16Ja, Here, as U op mense skree, is dit nie speletjies nie.
Dit is soos ’n orkaan wat alles uitmekaarruk. Jy sien die see se bodem en die aarde se fondamente.
17Soos ’n sterk hand wat my uit diep, donker water pluk, gryp U my en lig U my uit.
18My vyande was te sterk vir my, maar die Here het my gehelp. Hy het my gered van die mense wat te magtig vir my was.
19Toe hulle my aanval en ek diep in die moeilikheid was,
was die Here daar om my te help.
Hy het my gehelp dat ek nie ondergaan nie.
20Daarom het Hy my na ’n veilige plek toe gevat. Hy het my gered omdat Hy my liefhet.
21Ja, Hy het my gered. Hy beloon my omdat ek reg gelewe het. Ek was onskuldig.
22Omdat ek graag doen wat Hy van my vra, het Hy my gehelp.
Omdat ek nie verkeerde dinge gedoen het nie, het die Here mooi vir my gesorg.
23Ek het die reguit pad van die Here geloop. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het.
24Ja, ek het voluit vir Hom geleef soos Hy van my verwag het. Ek het Hom opreg gedien.
Ek was versigtig om niks verkeerds te doen nie.
25Die Here het dit geweet. Ek was onskuldig in sy oë. Daarom was Hy goed vir my. Hy het my regverdig behandel.
26As iemand getrou is, is die Here getrou. As iemand liefdevol optree, kry hy liefde van die Here af terug.
27As iemand reg en goed optree, is die Here ook goed vir hom.
As iemand slegte dinge doen,
sal hy ervaar hoe dit voel as God slegte dinge aan hom doen.
28As mense sleg behandel word, sal U hulle red.
As mense egter te veel van hulleself dink, sal U hulle op hulle plek sit.
29O Here, U is die lig in my lewe.
As U by my is, verdwyn die donker.
30Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele bende storm. Niks sal my kan keer nie. Ek spring oorn hoë muur.
31God se pad is volmaak. Jy kan alles glo wat Hy sê.
Hy beskerm almal wat by Hom kom wegkruip.
32Want wie anders as die Here is die enigste ware God?
En by wie anders kan ’n mens gaan wegkruip as by God?
33God gee my al die krag wat ek nodig het.
Hy laat my voorspoedig gaan.
34Niemand kan my vang nie.
Ek sal nie neerslaan nie.
35U wys my hoe om teen my vyande te veg en te wen. U maak my sterk.
36U self beskerm my en red my waar ek U nodig kry.
U het moeite gedoen en my gehelp. U was baie goed vir my.
Ek was ’n oorwinnaar.
37Ek het selfversekerd gedoen wat ek gedoen het. Ek het nie getwyfel nie.
38My vyande kon nie wegkom nie.
Ek het nie opgehou tot ek die laaste een oorwin het nie.
39Ek het hulle platgeloop.
Hulle sou nie sommer weer opstaan nie. Hulle het onder my voete beland.
40Maar ek kon dit net doen omdat U my die krag gegee het.
U het my vyande voor my laat kniel.
41Dis eintlik U wat my vyande vir my oorwin. U het gesorg dat hulle weghardloop.
So kon ek die mense wat nie van my hou nie se mag heeltemal breek.
42Hulle smeek iemand om hulle te help, maar daar is niemand nie.
Nou skielik vra hulle die Here om te help, maar Hy steur Hom nie aan hulle nie.
43Ek het hulle mag totaal gebreek, soos klip wat ’n mens fynmaal soos stof en in die wind rondstrooi, of soos modder wat jy in die pad gooi vir almal om op te trap. Ek het hulle vertrap.
44U het my gehelp om uit die kloue te kom van hierdie mense wat net wil baklei.
Nou is ek hulle koning en moet hulle na my luister.
Mense wat ek eers nie geken het nie, moet my nou dien.
45As hulle net van my hoor, luister hulle al! Vreemde mense kom bewend nader.
Hulle probeer nie eens teen my veg nie.
46Hulle gooi sommer dadelik die handdoek in. Hulle gee dadelik oor.
47Die Here leef! Ek wil vir die Here baie dankie sê omdat Hy my so beskerm.
Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my gered het.
48Hy help my om my vyande op hulle plek te sit. Hy onderwerp volke aan my mag.
49Hy red my van my vyande. Hulle kan niks aan my doen nie. Ek troon bo elkeen van hulle uit.
Mense wat gewelddadig is, kan niks doen nie omdat U my van hulle red.
50Daarom wil ek U loof en dankie sê voor al die nasies, o Here.
Ek wil liedere sing om u Naam groot te maak en U te eer.
51Die Here help sy koning. Hy maak hom ’n ware oorwinnaar.
Hy is baie goed vir die koning wat Hy aangestel het.
Hy is goed vir Dawid en al sy kinders, vir altyd en altyd.

Tans Gekies:

Psalms 18: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid