Numeri 18

18
Die take van die priesters en Leviete
1Die Here het vir Aäron gesê: “Jy en jou seuns en julle familielede uit die stam van Levi sal verantwoordelik gehou word as enigiets met die werk by die tent waar Ek aanbid word, verkeerd loop. Maar net jy en jou seuns sal in die moeilikheid wees as iets verkeerd loop in die werk van die priesters. 2Kry manne uit die stam van Levi om jou en jou seuns met julle pligte by die tent te help. 3Hulle mag julle help met alles wat julle in die tent moet doen. Maak net seker dat hulle nie naby die altaar kom of aan die offergereedskap vat nie, want dan sal julle beslis almal doodgaan. 4Hulle is die enigste mense wat julle mag help met die take wat in die tent gedoen moet word. Iemand wat nie ’n Leviet is nie, mag nie daar naby kom nie. 5Maar net jy en jou seuns mag diens doen in die heilige deel van die tent en die offers op die altaar bring. As julle dit presies doen soos Ek sê, sal Ek, die Here, nie weer vir Israel straf nie. 6Ek gee die Leviete vir julle om julle te help. Hulle is opsy gesit om in die tabernakel vir My diens te doen. Hulle behoort aan My. 7Maar net jy en jou seuns mag die werk van die priesters doen, daar by die altaar en agter die gordyn in die heiligste deel van die tent. My geskenk aan julle is dat julle priesters mag wees in my diens. As iemand anders wat nie ’n priester is nie, dit probeer doen, moet hy doodgemaak word.”
Die priesters se lewensonderhoud
8Die Here het vir Aäron gesê: “Ek het jou uitgekies om toesig te hou oor al die offers wat vir My gebring word. Al daardie dele van die offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Hierdie reël geld vir altyd. 9Selfs daardie dele van die spesiale offers wat nie heeltemal verbrand word nie, behoort aan jou en jou seuns. Dit sluit elkeen van die volgende soorte offers in: graanoffers, sondeoffers en skuldoffers. 10Hierdie dele van die offers wat julle toekom, moet julle in ’n afgesonderde plek eet. Julle moet onthou dat hierdie kos baie spesiaal is omdat dit eintlik aan My behoort. Slegs die mans mag daarvan eet.
11“Daar is nog ander offers wat ook aan julle behoort. Al die offers wat die Israeliete bring wat heen en weer voor My beweeg word, behoort ook aan jou en jou seuns en dogters. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet. Dit is weereens ’n vaste reëling wat vir altyd geld. 12Ook die eerste opbrengs van die jaarlikse oeste wat hulle altyd vir My bring, behoort aan julle. Dit sluit in olyfolie, wyn en koring. 13Die eerste vars vrugte wat aan hulle bome ryp geword het en wat hulle vir My bring, behoort ook aan julle. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet. 14Elke offer wat spesiaal deur die Israeliete vir My opsy gesit word, behoort ook aan julle. 15Die eersgebore kinders, of dit nou mens of dier is, wat aan die Here gewy word, behoort ook aan julle. Maar hier werk dit so: die eersgebore kinders en die eerstelinge van die onrein diere moet losgekoop word, sodat hulle kan teruggaan na hulle ouers en eienaars toe. 16Hulle moet op die ouderdom van een maand losgekoop word, teen die vasgestelde prys van 55 gram silwer per kop volgens die standaardgewigte wat hier by die tent gebruik word. 17Julle mag egter nie die eerstelinge van beeste, skape en bokke loskoop nie. Hulle moet aan My geoffer word. Hulle bloed moet as teken van my vergifnis van julle sondes teen die altaar gesprinkel word en hulle vet moet as ’n vuuroffer op die altaar verbrand word. Ek sal so ’n offer aanvaarbaar vind. 18Die vleis behoort aan julle net soos die bors en die regterboud van die offer wat heen en weer voor My beweeg word ook aan julle behoort. 19Al die spesiale offers wat die Israeliete vir My, die Here, bring, behoort aan jou en jou familie. Dit is ’n vaste reëling, ’n permanente ooreenkoms tussen My en jou en jou nageslag.”
20Die Here het ook vir Aäron gesê: “Nie jy of enige van die priesters sal enige grond van julle eie kry in die land waarheen Ek julle vat nie. Ek, die Here, sal sorg dat jy kry wat jy nodig het uit die offers wat vir My gebring word.”
Die Leviete se aandeel en die tiendes
21“Vir hulle werk in die tent waar Ek aanbid word, gee Ek vir die Leviete die tiendes wat die Israeliete uit hulle besittings vir My bring. 22Niemand anders mag dit selfs naby die tent waag waar Ek aanbid word nie. Dan sal hulle doodgaan. 23Dit is net die Leviete wat by die tent mag werk. En hulle sal verantwoordelik wees vir enigiets wat daar verkeerd loop. Dit is ’n reël wat ook vir julle nageslag geld. Die Leviete sal ook nie enige grond in die land kry nie, 24aangesien Ek die tiendes wat die volk vir My gebring het, vir hulle gee. Dit is hoekom Ek vir hulle sê dat hulle nie ’n deel van die land kry, soos die ander Israeliete nie.”
25Die Here het vir Moses gesê: 26“Sê vir die Leviete: Van die tiendes wat hulle van die Israeliete gekry het, moet hulle weer vir My ’n tiende daarvan as spesiale offer vir die Here gee. 27Die Here sal dit beskou asof dit die eerste koring van julle eie land of die eerste wyn van julle wynperse af is. 28Die een tiende van die tiendes wat julle van die Israeliete gekry het, moet julle vir Aäron as sy deel gee. Dit is my manier om vir hom te sorg. 29Maak seker dat julle net die beste van wat julle kry, vir die Here opsy sit.
30“Sê ook vir die Leviete: As julle die beste deel bring, sal dit gesien word as julle offer van julle dorsvloer of julle wynpers af. 31Julle mag die deel wat oorbly, op enige plek saam met julle gesinne eet, want dit is die Here se beloning vir die werk wat julle in die tent doen daar waar Hy aanbid word. 32So lank as wat julle die beste deel van wat die Israeliete gebring het, vir die Here opsy sit, mag julle die res eet sonder om bang te wees dat julle iets verkeerds doen. Maak net seker dat julle eers die beste deel van die offers vir die Here opsy sit voordat julle die res eet. As julle dit nie doen nie, sal julle doodgemaak word omdat julle iets geëet het wat net aan die Here behoort.”

Tans Gekies:

Numeri 18: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid