Numeri 17

17
Aäron se kierie
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die twaalf leiers van die stamme om elkeen vir jou ’n kierie te bring. Jy moet elke leier se naam op sy kierie skryf. 3Maar jy moet Aäron se naam op Levi se kierie skryf omdat daar net een kierie vir elke stam mag wees. 4Sit dan die kieries voor die ark in die tent neer, daar waar Ek julle altyd ontmoet om met julle te praat. 5Ek sal die kierie van die persoon wat Ek uitkies om priester te wees, laat groei. Op dié manier sal Ek ’n einde maak aan die Israeliete se voortdurende gekerm en gekla teen jou en Aäron.”
6Moses het vir die volk vertel wat die Here gesê het. Elke stamleier het toe vir hom ’n kierie gebring. Aäron het ook sy kierie gebring, sodat daar twaalf kieries was, een vir elke stam. 7Moses het toe die kieries gevat en hulle in die tent gaan neersit, daar waar die Here se ark staan.
8Die volgende môre toe Moses by die tent ingaan, sien hy dat Aäron se kierie, wat die stam van Levi verteenwoordig, vol nuwe uitgroeisels was. Om die waarheid te sê, daar was nie net nuwe uitgroeisels aan die kierie nie, maar ook bloeisels en selfs ryp amandels. 9Moses het al die kieries uit die tent uitgevat en hulle vir die volk gaan wys. Daarna het elke leier sy eie kierie teruggevat. 10Toe sê die Here vir Moses: “Sit Aäron se kierie terug in die verbondsark as ’n bewys vir enigiemand wat weer in opstand teen julle wil kom. Bring nou dadelik ’n end aan almal se opstandigheid teen My, want as hulle nie daarmee ophou nie, gaan daar beslis nog meer mense doodgaan.” 11Moses het gedoen wat die Here vir hom gesê het.
12Die Israeliete sê toe vir Moses: “Ons is so goed as dood! Dis verby met ons almal! 13Ons kan dit nie eens naby die tent van die Here waag om te offer sonder om dood te gaan nie. Ons sal almal net hier doodgaan.”

Tans Gekies:

Numeri 17: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid