Numeri 12

12
Mirjam en Aäron kla
1Mirjam en Aäron het Moses gekritiseer omdat hy met ’n vrou uit Kus getrou het. 2-4“Het die Here dan net deur Moses gepraat en nie deur ons ook nie?” wou hulle by hom weet. Die Here het gehoor wat hulle sê, want Moses was ’n baie nederige mens, die nederigste op aarde. Die drie van hulle is deur die Here aangesê om dadelik na die tent toe te gaan waar Hy aanbid word. Hulle is toe soontoe. 5Die Here het toe in ’n wolk afgekom en by die ingang van die tent gaan staan. Toe roep Hy vir Aäron en Mirjam nader en sê vir hulle: 6“Luister nou mooi na wat Ek vir julle sê. As Moses net ’n gewone profeet was, sou Ek met hom gepraat het soos met die ander profete, deur visioene en drome. 7Maar dit is nie hoe Ek met my dienaar Moses werk nie. Hy is my spesiale vertroueling. 8Met hom praat Ek direk en persoonlik, nie in allerhande raaisels nie. Hy sien selfs my silhoeët. Hoe kan julle dan waag om hom te kritiseer?”
9Die Here was baie kwaad vir hulle. Toe Hy daar weggaan 10en die wolk weer van die tent af oplig, was Mirjam se hele vel met ’n lelike uitslag oortrek. Haar hele vel was spierwit. Toe Aäron na Mirjam kyk en sien hoe sy lyk, 11het hy vir Moses gesê: “Asseblief, my heer, moet tog nie ons dwaasheid wat ons in ’n oomblik van swakheid kwytgeraak het, teen ons hou nie. 12Moet Mirjam asseblief nie so siek laat bly nie. Dit is omtrent net so erg soos ’n kind wat doodgebore word, waarvan die liggaam al halfpad ontbind het.”
13Moses het toe gebid en gevra: “God, maak haar asseblief weer gesond!”
14Hierop het die Here geantwoord: “As sy ’n kind was en haar pa het opsetlik voor ander mense in haar gesig gespoeg om haar te verneder, sou sy nie die reg gehad het om voor oor sewe dae weer in die openbaar te verskyn nie. So, laat haar nou sewe dae lank buite die kamp bly sonder dat iemand naby haar kom. Na die sewe dae mag sy weer terugkom.” 15Mirjam is toe vir sewe dae uit die kamp verban en die volk het eers weer verder getrek nadat sy teruggekom het. 16Hulle het kamp opgebreek en van Gaserot af verder getrek tot in die Paranwoestyn, waar hulle weer kamp opgeslaan het.

Tans Gekies:

Numeri 12: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid