Markus 5:25-34

Markus 5:25-34 DB

Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Sy het al baie swaargekry en het al wat ’n dokter was, besoek, maar niks wou help nie. Sy het net al hoe sieker geword. Sy het van Jesus gehoor en toe by haarself geredeneer: “As ek net aan hierdie Man kan raak, weet ek dat ek gesond sal word.” Toe Jesus so tussen die baie mense deurstap, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Sy kon aan haar liggaam voel hoe sy beter word en die pyn weggaan. Sy was gesond! Jesus het dadelik geweet dat iemand van sy krag gebruik het om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie’t aan My gevat?” Die dissipels was dadelik by: “U sien tog hoe druk en beur die mense hier om U. Hoe kan U nog vra: ‘Wie’t aan My gevat?’” Maar Jesus het Hom nie aan hulle gesteur nie, maar bly rondkyk om te sien wie dit was. Die vrou het besef wat met haar gebeur het. Vrees het haar beetgepak en sy het begin bewe. Sy val toe voor Jesus neer en vertel Hom alles. Jesus sê toe vir haar: “Jou dae van seerkry en swaarkry is verby. Omdat jy My so vertrou het, sal die siekte jou nooit weer pla nie. Gaan lewe voluit sonder die pyn en bekommernis.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid