Lukas 14:26-33

Lukas 14:26-33 DB

Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê: “Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van my volgelinge te wees? Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie. As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg! “Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees. En dit is baie moeilik. Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken. Om My te volg moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is: jy moet jou kruis optel en agter My aanstap. As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg. “Kom Ek verduidelik dit met ’n voorbeeld: As jy ’n huis wil bou, werk jy mos voor die tyd uit of jy genoeg geld het om dit alles te kan doen, nie waar nie? Anders, as jy nie jou sommetjies behoorlik gemaak het nie, is jou geld dalk te min nadat jy die fondament gegooi het. En wat gebeur dan? Dan lag almal vir jou. Hulle sal sê: ‘Daar’s nou vir jou ’n deurmekaar ou wat ’n huis halfpad bou en dit dan net so laat staan!’ “Nog ’n voorbeeld: As ’n koning met ’n leër van 10 000 soldate besluit om te gaan oorlog maak teen ’n ander koning met ’n leër van 20 000 soldate, moet hy voor die tyd baie mooi dink of hy dit kan regkry. So nie, moet hy liewer ’n afvaardiging na die ander koning toe stuur en met hom probeer onderhandel om ’n vreedsame oplossing te kry. “Weet julle, so gaan dit ook met elkeen van julle wat agter My wil aankom. As julle nie bereid is om julle geld en julle besittings weg te gee aan ander mense wat swaarkry nie, kan julle nie my volgelinge wees nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 14:26-33

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid