Jesaja 48

48
Julle wil nie die Here glo nie
1Hoor ’n bietjie hier, nageslag van Jakob. Julle word Israel genoem. Julle is die nageslag van Juda. Julle maak belangrike verklarings in die Naam van die Here. Julle lê ’n eed af in die hof in die Naam van die God van Israel. Maar julle is vals en oneerlik. 2Julle spog daarmee dat julle in God se stad Jerusalem bly. Julle sê graag die God van Israel staan agter julle. Julle sê die Here wat die hemelse magte aanvoer, is aan julle kant.
3Ek het vantevore al vir julle gesê wat gaan gebeur. Ek het julle dit uit my eie mond laat hoor. Ek het onverwags gedoen wat Ek gesê het. 4Ek weet hoe moeilik dit is om met jou klaar te kom. Ek weet dat jy onbuigsaam en hardkoppig is. 5Ek het voor die tyd al vir jou gesê wat gaan gebeur. Voor iets nog gebeur het, het Ek gesorg dat jy daarvan weet. Jy kan nie sê: “Dit is my eie god wat hierdie dinge laat gebeur het” nie. Jy kan ook nie sê: “My afgodsbeeld het besluit dit moet gebeur” nie. 6Jy het mos gehoor wat Ek gesê het gaan gebeur. Jy het gesien hoe dit gebeur het. Kan jy dit ontken?
Daar gaan iets nuuts gebeur
Ek gaan nou vir jou van nuwe dinge vertel wat Ek tot dusver nog stil gehou het. Jy het nog nie daarvan gehoor nie. 7Dit is nuwe dinge wat nog nie vantevore gebeur het nie. Jy het voor vandag nog glad nie daarvan geweet nie. Wanneer dit gebeur het, sal jy nie kan sê: “Maar ek het dit alreeds voorheen geweet” nie. 8Jy het beslis nog nie hiervan gehoor nie. Jy weet daar niks van nie. Julle kon dit nie voorheen al gehoor het nie.
Ek weet mos hoe onbetroubaar jy is. Van kleins af was jy eiesinnig. 9Om my Naam skoon te hou sal Ek sorg dat Ek nie vir jou kwaad word nie. Om my eer te beskerm sal Ek jou nie verwoes nie. 10Ek het jou gesmelt, maar nie soos silwer gesmelt word nie. Ek het jou in die oond van swaarkry gesmelt. 11Ek het dit gedoen om my Naam in ere te hou. Ek laat nie my eer aantas nie. Ek staan nie my eer aan afgode af nie.
Ek gaan julle bevry
12Jakob, jy moet na My luister. Ek het Israel geroep om aan My te behoort. Ek is die Here. Ek is die eerste en die belangrikste. 13Ek het met my eie hand die fondamente van die aarde gelê. Ek het met my regterhand die hemelkoepel gespan. As Ek die mense roep om My te kom sien, kom staan hulle op aandag voor My. 14Kom almal hier bymekaar. Kom luister wat Ek sê. Was daar een van die gode wat vir julle gesê het dat Ek ’n man gaan kies wat Babel gaan aanval? Hy sal met die Galdeërs maak soos Ek besluit het. 15Ek self het besluit om hom te roep. Ek stuur hom na Babel toe. Hy sal suksesvol wees met wat hy gaan doen. 16Kom staan hier naby My. Hoor wat Ek sê. Van die begin af sê Ek dit openlik. Wanneer dit gebeur, sal Ek by wees.
Die goeie nuus
Die Here my God stuur my. Hy gee my sy Gees om saam met my te gaan.
17Die hoë God van Israel, die Here wat jou bevry, sê vir jou: Ek is die Here. Ek is jou God. Ek leer jou wat vir jou goed is. Ek laat jou die regte pad loop. 18As jy tog maar die rigting gevolg het wat Ek vir jou gewys het. Jou lewe sou dan so rustig gewees het soos ’n rivier wat sterk vloei. Jy sou so betroubaar gewees het soos die branders van die see wat onophoudelik breek. 19Jou afstammelinge sou so baie gewees het soos die sandkorrels op die strand. Jou naam sou nooit van die aarde af verdwyn het nie.
20Trek weg van Babel af. Vlug voor die Galdeërs. Skreeu van vreugde. Laat dit weerklink tot by die eindes van die aarde. Juig dit uit: “Die Here het die kinders van Jakob bevry!” 21Hulle het nie dors geword toe Hy hulle deur ’n droë landstreek laat trek het nie. Hy het vir hulle water uit ’n rots laat kom. Hy het die rots laat oopbreek en daar het water daaruit gevloei. 22Maar vir die goddelose is daar geen vrede nie, sê die Here.

Tans Gekies:

Jesaja 48: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid