2 Samuel 23

23
Die lied: “Dawid se laaste woorde”
1Hierdie is ’n lied wat genoem is “Dawid se laaste woorde”.
’n Profesie van Dawid, Isai se seun,
’n profesie van iemand vir wie God ’n hoë posisie gegee het,
vir wie die God van Jakob uitgekies het,
die digter van Israel se mooiste liedere.
2Die Gees van die Here praat deur my;
Hy sê vir my wat ek moet sê.
3Die God van Israel het gepraat;
Israel se God by wie ’n mens veilig is, het vir my gesê:
As iemand ’n regverdige koning is
en respek het vir die Here,
4is hy soos die helder son
op ’n wolklose môre
wat die gras laat groei na die reën.
5Dis hoe God wil hê my regering moet wees,
want Hy het vir my ’n belofte gemaak
wat vir altyd bly staan.
Hy het self die belofte gemaak
en Hy sal sy belofte hou.
Hy help my in alles wat ek wil doen;
Hy sorg dat dit voorspoedig gaan.
6Maar slegte mense is soos droë doringtakke
wat die wind uitmekaargewaai het:
’n mens raak nie aan hulle nie.
7Al wat ’n mens daarmee kan doen,
is om hulle bymekaar te krap
met die punt of handvatsel van ’n spies
en hulle net daar te verbrand.
Dawid se dapperste soldate
8Hier is die name van Dawid se dapperste soldate: Joseb-Bassebet van die Tagkemon-familie was die leier van die beroemde drie. Hy het in een geveg met sy oorlogsbyl wat hy so bokant sy kop swaai, 800 man kafgeloop.
9Eleasar, Dodo se seun, was die tweede van die drie beroemde helde van Dawid. Hy was van die Agoagfamilie. Hy was by toe hulle die keer die Filistyne uitgetart het wat reg was vir die geveg. Toe die Filistyne storm, het die manne van Israel teruggeval, 10maar Eleasar het bly staan en teen die Filistyne geveg tot hy ’n kramp in sy hand gekry het en nie sy swaard kon los nie. Die Here het daardie dag ’n groot slag vir die Israeliete geslaan. Die manskappe het hom later gaan help, maar eintlik was dit maar net om die klere en wapens van die lyke af te haal.
11Die derde een was Samma. Hy was Agee, wat van Harar af gekom het, se seun. Die Filistyne het eenkeer by Legi saamgetrek. Daar was ’n land vol lensies en die manskappe het vir die Filistyne gevlug. 12Samma het in die middel van die land gaan staan om dit te verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het so vir die Israeliete ’n groot slag geslaan.
13Drie van Dawid se 30 helde het eenkeer in die oestyd na Dawid toe gegaan waar hy in die Adullamgrot was. Die Filistyne se leër het in die Spooklaagte kamp opgeslaan. 14Dawid het toe in die berg weggekruip omdat die Filistyne ’n afdeling soldate in Betlehem gehad het. 15Dawid het gesug en gesê: “Ai, ek wens darem iemand kon nou vir my water gee uit die put van Betlehem, daar nes jy in die dorp ingaan.”
16Die drie heldhaftige mans het toe by al die Filistyne se wagte verbygegaan en water gaan skep uit die put waar jy in Betlehem ingaan. Hulle het dit vir Dawid gevat, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here op die grond uitgegooi 17en gesê: “Ek sal dit nooit drink nie, Here! Dis so goed soos die bloed van dié mans wat hulle lewe gewaag het om dit te gaan haal!” Hy wou dit glad nie drink nie.
Dit is hoe dapper daardie drie was.
18Abisai (Joab se broer en die seun van Seruja) was die leier van die 30 helde van Dawid. Hy het met sy spies 300 manne doodgesteek. Sy naam word saam met die drie mans genoem wat vir Dawid water gaan haal het. 19Hy was beroemder as die 30 helde en hy het hulle leier geword, maar hy kom nie naby die beroemde drie nie.
20Benaja, die dapper Jojada se seun, wat van Kabseël af gekom het, is vir baie dinge bekend. Hy het die twee mans wat “die leeus van Moab” genoem is, doodgemaak. Dis hý wat eendag toe dit gesneeu het in ’n ondergrondse reservoir ingegaan en ’n leeu daar doodgemaak het. 21Dis ook hy wat daardie lang Egiptenaar doodgesteek het. Die Egiptenaar het ’n spies in sy hand gehad en Benaja het net ’n stok gehad. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies doodgesteek. 22Dit is hoe dapper Benaja, seun van Jojada, was. Sy naam word ook saam met die drie helde genoem wat vir Dawid water gaan haal het. 23Hy was beroemder as die 30 helde, maar hy kom ook nie naby die beroemde drie nie. Dawid het hom die leier van sy lyfwag gemaak.
24Onder Dawid se dapperste soldate tel ook nog: Asael, Joab se broer; Elganan, Dodo van Betlehem se seun; 25Samma en Elika van Garod; 26Geles van Pelet; Ira, Ikkes van Tekoa se seun; 27Abiëser van Anatot; Sibbekai van Gusa; 28Salmon van Agoag; Marai van Netofa; 29Geled, Baäna van Netofa se seun; Ittai, Ribai van Gibea in Benjamin se seun; 30Benaja van Piraton; Hiddaj van Nagale-Gaäs; 31Abi-Albon van Bet-Araba; Asmawet van Bagurim; 32Eljagba van Saälbon; Jasen van Gun; Jonatan die seun van 33Samma van Harar; Agiam, Sarar van Arar se seun; 34Elifelet, Agasbai van Maäka se seun; Eliam, Agitofel van Gilo se seun; 35Gesro van Karmel; Paärai van Arab; 36Jigal, Natan van Soba se seun; Bani van Gad; 37Selek die Ammoniet; Nagrai van Beërot wat Joab se wapendraer was; 38Ira en Gareb van Jeter, 39en Urija die Hetiet.
Almal saam was hulle 37.

Tans Gekies:

2 Samuel 23: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid