Die Israeliete het daardie dag harde bene gekou, want Saul het die manskappe voorgesweer: “So waar as die Here leef, enigiemand wat voor vanaand iets eet voor ek wraak geneem het op my vyande, sal doodgemaak word.” Niemand het aan iets geproe nie.
Al die manskappe moes deur ’n plek met baie bome gaan. Daar was byeneste in gate in die grond. Toe die manne deur die bos gaan, sien hulle die vet heuningkoeke, maar niemand het dit gewaag om daaraan te proe nie, want hulle was bang oor die eed wat Saul gesweer het. Maar Jonatan was nie by toe sy pa dit vir die manskappe gesê het nie. Hy steek die kierie wat hy in sy hand het se punt in ’n heuningkoek en lek dit af. Sy oë het sommer weer geblink.
Een van die manskappe praat toe met hom daaroor: “Jou pa het ons die dood voor oë gesweer en gesê: ‘Die man wat vandag iets eet, sal doodgemaak word.’ Daarom is die manskappe so gedaan.”
“My pa het die land baie skade aangedoen,” antwoord Jonatan. “Kyk hoe blink my oë nadat ek net ’n bietjie heuning geproe het. Dit sou soveel beter gewees het as die manne vandag goed kon weglê aan die goed wat hulle by die Filistyne gevat het. Ons kon die Filistyne ’n nekslag gegee het.”
Daardie dag het die Israeliete van Mikmas af tot by Ajalon die Filistyne kafgeloop. Omdat die manskappe doodmoeg was, het hulle teen die aand op die goed toegesak wat hulle van die Filistyne afgeneem het. Hulle het van die skape en bokke, koeie en kalwers gegryp en dit op die grond geslag en geëet sonder dat die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.
Iemand gaan sê toe vir Saul: “Die mense sondig teen die Here as hulle die vleis eet voor die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.”
“Julle doen verkeerd,” sê Saul, “rol dadelik ’n groot klip nader.” Daarop sê hy: “Laat weet al die manskappe: Elkeen moet sy bees of skaap hier na my toe bring en dit op hierdie klip slag. Dan kan julle eet en nie teen die Here sondig met die bloed van die diere nie.”
Daardie aand het elkeen wat ’n dier wou slag, dit na die groot klip gebring en dit daar geslag. So het Saul vir die Here ’n altaar met die klip gebou. Dit was die eerste keer dat hy so iets gedoen het.
Saul sê toe: “Ons gaan vannag in die vlakte agter die Filistyne aan. Ons vat hulle goed, jaag hulle tot die son uitkom en maak dan die laaste een dood.”
“Maak soos u goeddink,” antwoord die manskappe.
Maar die priester sê: “Kom ons hoor net eers wat God daarvan sê.”
Saul vra toe vir God wat hy moet doen: “Moet ek agter die Filistyne aangaan in die vlakte? Sal U hulle aan Israel oorgee?”
Maar God het hom glad nie geantwoord nie.
“Bring al die leiers van die volk hier bymekaar,” sê Saul. “Ek wil weet watter verkeerde ding vandag gedoen is, want sowaar as die Here, die Helper van Israel, leef, die een wat dit gedoen het, moet doodgemaak word, al is dit ook my seun Jonatan.”
Maar niemand wou iets vir Saul sê nie.
Hy sê toe vir al die Israeliete: “Staan julle daar, ek en my seun Jonatan sal hier staan.”
“Dis goed so,” antwoord hulle vir Saul.
Toe sê Saul vir die Here: “God van Israel, gee tog vir ons ’n duidelike antwoord.” Jonatan en Saul is toe geloot; die manskappe was vry.
“Trek lootjies tussen my en my seun Jonatan,” sê Saul.
Jonatan is geloot.
Saul sê vir hom: “Vertel my wat jy gedoen het.”
Jonatan vertel hom toe en sê: “Ek het maar net ’n bietjie heuning geproe met die punt van ’n stok. Moet ek nou daaroor doodgemaak word?”
Saul antwoord hom: “Jy móét doodgemaak word, Jonatan. As ek nie doen wat ek vir die Here gesweer het ek sal doen nie, sal Hy my baie swaar straf.”
Maar toe sê die manskappe vir Saul: “Moet Jonatan wat die Israeliete so ver laat wen het, doodgemaak word? Dit sal die dag wees! So waar as die Here leef, niemand raak aan Jonatan nie, want wat hy vandag gedoen het, het hy net reggekry omdat God hom gehelp het!” So het die manne Jonatan van die dood gered.
Saul het toe nie agter die Filistyne aangegaan nie, en die Filistyne het teruggegaan na hulle eie plek.
Saul het die sake van die koningskap eers goed gereël en daarna het hy oorlog gemaak teen al die vyande wat rondom die Israeliete gebly het: teen die Moabiete, die Ammoniete, die Edomiete, die koning van Soba en die Filistyne. Oral waar hy geveg het, het hy gewen. Hy was nie ’n bang man nie. Hy het die Israeliete vrygemaak van die Amalekiete wat hulle gedurig aangeval en hulle goed gevat het. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Hy het ook twee dogters gehad; die oudste se naam was Merab en die jongste Mikal. Saul was getroud met Aginaäm. Sy was die dogter van Agimaäs.
Die naam van Saul se generaal was Abner. Abner was sy neef. Hy was Ner se seun. Kis, Saul se pa, en Ner was die seuns van Abiël. Solank Saul geleef het, was daar groot gevegte met die Filistyne. Daarom het Saul elke man wat kon veg en wat nie bang was nie, as ’n soldaat gebruik.