1 Samuel 14:24-52

1 Samuel 14:24-52 AFR20

Die manne van Israel was daardie dag onder druk, want Saul het die manskappe 'n eed opgelê deur te sê: “Vervloek is die man wat iets eet voor vanaand, en voordat ek my op my vyande gewreek het.” Nie een van die manskappe het toe sy mond aan iets gesit nie, en so ook die hele land. Hulle kom toe in 'n bos waar daar heuning op die grond was. Toe die manskappe by die bos aankom, is daar sowaar heuning in oorvloed! Maar niemand het daaraan geraak nie, want die manskappe was bang vir die eed. Jonatan het egter nie gehoor toe sy vader die manskappe 'n eed opgelê het nie. Hy het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek, dit in 'n heuningkoek gedoop en dit met sy hand na sy mond gebring. Sy oë het daarvan opgehelder. Een van die manskappe reageer toe en sê: “Jou pa het die manskappe streng onder eed geplaas deur te sê, ‘Vervloek is die man wat vandag iets eet.’ Dit is waarom die manskappe moeg geword het.” Daarop sê Jonatan: “My pa dompel die land in ellende. Kyk tog: My oë het opgehelder omdat ek aan hierdie bietjie heuning geproe het – hoeveel te meer die manskappe s'n, as hulle vandag goed kon eet van die buit wat hulle by hulle vyande afgeneem het! Want nou is die slagting onder die Filistyne nie so groot nie.” Hulle het daardie dag die Filistyne verslaan van Migmas af tot by Ajalon. Die manskappe was baie moeg, en het op die buit toegesak. Hulle het kleinvee, beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag. Hulle het dit met bloed en al geëet. Saul is meegedeel: “Kyk, die manskappe is besig om teen die HERE te sondig deur vleis met bloed en al te eet.” Toe sê hy: “Julle was ontrou. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!” Saul het ook gesê: “Beweeg tussen die manskappe deur en sê vir hulle, ‘Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee hier na my toe bring en dit hier slag en eet, sodat julle nie teen die HERE sondig deur dit met bloed en al te eet nie.’ ” Al die manskappe het toe daardie nag elkeen sy bees saamgebring en dit daar geslag. So het Saul vir die HERE 'n altaar opgerig. Dit was die eerste keer dat hy vir die HERE 'n altaar opgerig het. Saul het gesê: “Ons moet in die nag aftrek agter die Filistyne aan, tot ligdag toe onder hulle buit maak, en niemand onder hulle laat oorbly nie.” Die manskappe het gesê: “Doen wat goed is in u oë!” Maar die priester het gesê: “Laat ons hier eers tot God nader.” Saul het God toe geraadpleeg: “Moet ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in die hand van Israel oorgee?” Maar God het hom daardie dag nie geantwoord nie. Toe sê Saul: “Kom hier, al julle steunpilare van die volk! Vind uit, stel vas waarmee hierdie sonde vandag begaan is. Want so waar as die HERE leef, Hy wat Israel verlos – selfs as dit deur my seun Jonatan gedoen is, moet hy beslis sterf. ” Maar van al die manskappe het nie een hom geantwoord nie. Toe sê hy vir die hele Israel: “Staan julle aan die een kant, dan sal ek en my seun Jonatan aan die ander kant staan.” Die manskappe het Saul geantwoord: “Doen wat goed is in u oë!” Saul sê toe vir die HERE: “God van Israel, gee duidelikheid! ” Jonatan en Saul is uitgewys, en die manskappe was vry. Toe sê Saul: “Werp die lot tussen my en my seun Jonatan.” En Jonatan is uitgewys. Daarop sê Saul vir Jonatan: “Sê vir my wat jy gedoen het.” Jonatan het hom toe vertel. Hy het gesê: “Ek het maar net aan 'n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was. Hier is ek – ek sal sterf.” Toe sê Saul: “Mag God my swaar straf as jy nie beslis sterf nie, Jonatan.” Maar die manskappe het vir Saul gesê: “Moet Jonatan, wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het, sterf? Hoegenaamd nie! So waar as die HERE leef, nie 'n haar van sy kop sal op die grond val nie! Want met God se hulp het hy dit vandag gedoen.” So het die manskappe Jonatan laat vrykom, en hy het nie gesterf nie. Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle plek toe gegaan. Saul het die koningskap oor Israel onder beheer gekry, en het op alle fronte oorlog gevoer teen al sy vyande: teen Moab, teen die Ammoniete, teen Edom, teen die konings van Soba en teen die Filistyne. Waar hy ook al gekom het, het hy redding gebring. Hy het dapper opgetree en Amalek verslaan. Hy het Israel gered uit die hand van hulle plunderaars. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua; sy twee dogters se name was Merab, die oudste, en Migal, die jongste. Saul se vrou se naam was Aginoam, dogter van Agimaäs. Die naam van die bevelvoerder van sy leër was Abner, seun van Ner, die oom van Saul. Kis, die vader van Saul, en Ner, Abner se vader, was seuns van Abiël. Daar was hewige gevegte met die Filistyne solank Saul geleef het. Wanneer Saul enige heldhaftige of onverskrokke man gesien het, het hy dié by hom laat aansluit.