RUT 1:7-19

RUT 1:7-19 AFR53

So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan, sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het. Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk. Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word? Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar — sou julle in dié geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in dié geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my uitgestrek is. Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang. Daarop sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan! Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen — net die dood sal skeiding maak tussen my en u. Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek. En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naómi?

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid